MOSSELBAAI NUUS - Die Evangelies-Lutherse Kerk, Immanuel-gemeente kan met trots vanjaar terugkyk op 140 geseënde jare waartydens hierdie gemeente 'n fundamentele rol in die gemeenskap gespeel het.
In 1879 het 'n ene Daniël Heese op reis vanaf Kaapstad, dié kerk in Montagustraat kom vestig. Heese het ook op Riversdal en in Herbertsdale gemeentes gevestig. 'n Pastorie en klaskamers is by die destydse perseel opgerig. Die eerste gemeente het met 'n nederige sewe gemeentlede sy beslag gevind.
Oor die jare heen het verskeie kerkleiers 'n groot invloed op hierdie gemeente se ontwikkeling gehad.
Die eerste was Friedrich Ecker, wat vir 21 jaar die leisels gevat het. Ecker, 'n Duitser moes die gemeente lei deur moeilike tye wat die Anglo-Boereoorlog en ook die Eerste Wêreldoorlog ingesluit het. Vanweë sy Duitse afkoms, moes Ecker vlug na 'n Voorbaai wat destyds nie die beboude gebied was soos dit vandag geken word nie. Hy het saans, na donker toegewyd met sy sendingwerk voortgegaan. Ecker het hom veral op die vestiging van opvoeding onder die gemeente en gemeenskap beywer.
Sy opvolger Friedrich Scheffler het 27 jaar lank die gemeente gelei.
Scheffler was 'n bekwame man van vele talente.
Naas sy sendingtaak, het hy 'n passie vir die onderwys gehad. Die fisieke welsyn van gemeentelede het hom na aan die hart gelê en daarom het hy ook sy mediese opleiding ter bevordering van die gemeenskap aangewend.
Onder Scheffler se hand, was daar groot vooruitgang vir die gemeente. Hy was onder meer die stukrag agter die begin van 'n sekondêre skool en in 1964, met drie opslaanklaskamers, vind Hoërskool Sao Bras sy beslag.
Die eerste skoolhoof van Hoërskool Sao Bras, was 'n seun uit die einste Lutherse Kerk, DC Groenewald. Hy is op 91 vroeër vanjaar oorlede. Sy seun, DD Groenewald, sit tans tradisie voort as skoolhoof by dié skool.
Die kerkgebou in Roselindlaan, Uitbreiding 6, is in 1967 ingewy in die tyd van die gemeente se leier KE Roeder. As 'n kampvegter vir menseregte, het hy publieke teenstand gebied teen die verdere verskuiwing uit woongebiede deur in die Mossel Bay Advertiser hieroor briewe te wissel. Die eerste inheemsgebore leier van die gemeente was HP Steneberg.
In 1986, vier die gemeente nog 'n mylpaal met die aanbou en inwyding van die kerksaal.
Vanaf Maandag, 30 September tot Sondag, 6 Oktober, vier die gemeente fees met 'n verskeidenheid aktiwiteite. Hulle nooi die gemeenskap na hierdie feesvieringsgeleentheid.
Van die eerste leiers, Friedrich Scheffler.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'