MOSSELBAAI NUUS - In 'n eerste vir Mosselbaai, hou Wyk 11 op Woensdag, 29 Maart 'n Kenmekaar om 19:00 in die Danabaai-gemeenskapsaal.
By hierdie byeenkoms, gemik veral op nuwe intrekkers, maar ook op diegene wat reeds goed ingeburger is, sal beide die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé en die munisipale bestuurder, Colin Puren gesels oor onlangse raadsbesluite en munisipale aangeleenthede wat inwoners raak.
"Wyk 11 vervat die area suid van die N2 vanaf Pinnacle Point tot en met die walle van die Gouritsrivier. Hierdie area is baie gewild by nuwe intrekkers en dikwels vra mense op sosiale media wie gekontak kan word met die een of ander munisipale diensleweringsprobleem, of wie met inligting oor een of ander kwessie kan help.
"Ons nooi dus inwoners om persoonlik te kom kennis maak nie net met die leierskorps nie, maar ook die verteenwoordigers van die onderskeie munisipale direktorate tydens 'n Kenmekaar-byeenkoms op Woensdag, 29 Maart.
"Die vergadering begin juis effe later om voorsiening te maak vir diegene wat moet werk. Die Danabaai-buurtwag sal worsrolletjies verkoop om die honger te stil as deel van hul fondswerwing.
"Daar is goeie vordering gemaak met die strategiese doelwitte wat by ter aanvang van hierdie termyn deur die burgemeester gestel is. Daar is ook perspektiewe op die uitdagings weens eksterne faktore, soos onder meer beurtkrag.
"Kom vind uit wie met wat werk en hoe die munisipaliteit u diensleweringskwessies kan aanspreek en u van hulp kan wees," nooi die wyksraadslid vir Wyk 11, Nickey le Roux.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'