MOSSELBAAI NUUS - Die ACVV Kenani-dienssentrum vir ouerwordende persone in Heiderand word op 1 Augustus vanjaar 30 jaar oud.
Kenani is ‘n nie-winsgewende organisasie in diens van die gemeenskap en is destyds begin om behuising, sowel as algemene dienste, aan ouer persone in Mosselbaai te bied.
Selfsorg word voorsien deur agt huise, wat elk sewe inwoners het, elk met ‘n eie kamer. ‘n Gekwalifiseerde suster is daagliks aan diens.
Benewens die inwonende lede is daar ook dienssentrumlede, wat baat vind by etes wat afgelewer of weggeneem kan word, verplegingsdienste en tuishulp. Laastens is daar ook ‘n klein aftreeoord met 16 huise, waar lewensreg gekoop kan word. Ongelukkig het van die programme en dienste wat gereeld aangebied is, in die slag gebly met die Covid-19-inperkings.
Deur die jare het die gemeenskap van Mosselbaai hul hande en harte oopgemaak deur Kenani te ondersteun met donasies en deur die bywoon van basaars en etes waarmee fondse ingesamel word.
"Daarvoor wil ons hartlik dankie sê. U ondesteuning en gebede beteken baie vir ons, veral in hierdie moeilike tyd van inperking waardeur ons bejaardes erg getref word. Dit is ons bede om vir jare nog die betekenis van Kenani, naamlik om te beskerm, uit te leef en gestand te doen," sê bestuurder, Mariana Lategan.
Vir inligting kan die Lategan, gekontak word (044 690 3204).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'