Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Henry Hans Pienaar (85) en Sonja Brenda Steyn (65) het op 1 Desember by die ACVV Kenani Diensentrum vir senior burgers getrou.
Hulle is albei Kenani-inwoners en het mekaar daar ontmoet.
Sonja het beeldskoon gelyk in 'n vloeiende, langmou, ligtepienk rok met fyn silwer strepe. Haar elegante, hoë-hak sandale het perfek met die rok gepas.
Sy het 'n klein, eenvoudig ruiker gedra en haar hare was met 'blomme versier. Sy het pêrel-oorbelle gedra en pêrels om haar nek. Na die troue by Kenani het die paartjie 'n foto-sessie op die strand gehad.
'n Kenani woordvoerder het gesê: "Vriendskapsbande word gesmee tussen mede inwoners hier by Kenani op ‘n daaglikse basis. Elke persoon het die behoefte aan liefde, eie identiteit, betekenis, omgee en aanvaarding. Psalm 16:5-6 lees:
'Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. ‘n Pragtige deel is vir my afgemeet. Ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.'
Vriendskapsband
"Dit beskryf die mooi vriendskapsband tussen Henry en Sonja, wat dieper ontwikkel het tydens hul samesyn en waardevolle gesprekke.
"ACVV Kenani het die troue vir hulle gereël en Sonja se huis waar sy woonagtig was, Huis 9 het vir hulle as geskenk ‘n aand bespreek by 'n hotel in Hartenbos.
"Hierdie familie kring en vriende wens hul alle liefde en voorspoed toe op hierdie nuwe lewenspad wat hul saam gaan wandel in liefde en omgee."
Gemini Model and Talent Agency het foto's gratis vir die paartjie geneem en die agentskap se twee top modelle, Desire Jooste en Emmie Taute Benn het ook die paartjie ondersteun met die foto's en hulle gewys hoe om te poseer vir die foto's.
Foto's: Frieda Prinsloo, Maria Lubbe Ras en Gemini Model and Talent Agency
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus.’