Gallery Video
GROOT-BRAKRIVIER NUUS EN VIDEO - Die Wolwedansdam is in die Groot-Brakrivier geleë, sowat 3km stroom-op van die dorp met dieselfde naam in die distrik van Mosselbaai.
Die dam is op die oorspronklike eiendom, Wolwedans 129, gebou en is in 1990 voltooi. In 1992 is die dam tot sy volle kapasiteit gevul.
FOTOGALERY: Ken jou damme: Wolwedansdam
Die koördinate van die dam is op breedtegraad 34°01' en lengtegraad 22°14'.
Die dam is gebou om water te voorsien aan die destydse Mossref-gaswerke wat tans bekend staan as PetroSA (Mossgas) en die Mosselbaai-munisipaliteit.
VIDEO - Ken jou damme, die Wolwedansdam (Video: Grey Stopforth, Redigering: Jannie du Plessis).
Die dam beslaan 109ha met 'n volume van 24 miljoen m³ as dit op volle kapasiteit is.
Die damwal van 70m hoog is 'n kategorie III-swaartekragboogwal van rolbeton met 'n getrapte stroomhelling en 'n konstante stroomradius van 135m.
'n Onbeheerde oorloop is sentraal in die 270m lange kruin van die wal geplaas en water oor die oorloop stort teen die getrapte stroomhelling af tot op 'n ongeveer 15m lange horisontale gewapende betonskort waar 'n hidroliese sprong en roller gevorm word. Die oorloop kapasiteit is ongeveer 960m³/s.
Die Wolwedansdam bied 'n pragtige 6km staproete tot by die uitkykpunt oor die damwal. Die roete, begin by Groot-Brakrivier dorp en kan net met 'n afspraak gestap word. Verskeie voëlsoorte en verskillende plantsoorte en bome kan op hierdie staproete besigtig word. Dié staproete is egter die enigste manier om by die uitkykpunt te kom en besoekers mag glad nie verder as die uitkykpunt op staatsgrond rondloop nie.
Vir meer inligting oor die dam en om afsprake te maak vir die staproete of skool-uitstappies kontak, Kobus Visagie (082 908 6633).
'Ons bring jou die nuutste Groot-brak, Tuinroete nuus'