GOURITSMOND NUUS - Gouritsmonders het dalk nog nooit voorheen 'n groter renons in asbes gehad as juis nou nie.
Sedert die erge haelstorm in Mei skade aan etlike eiendomme veroorsaak het, is die kusdorpie se inwoners omtrent gepeper met inligting oor die veilige verwydering van asbes binne die nuwe wetgewing wat in November 2020 van krag gekom het.
LEES: Asbeskwessie dalk deur Munisipaliteit bestuur
Tot oormaat van ramp het die stormsterk wind, wat einde Junie ook wyd in Mosselbaai skade aangerig het, Gouritsmond nie gespaar nie. Tydens die windstorm het mure en bome omgewaai en is ander strukture beskadig.
In Kusweg het 'n huis se dak gedeeltelik afgewaai, met die gevolg dat groot stukke asbes op 30 Junie in die straat en op die sypaadjie beland het. 'n Inwoner van Gouritsmond, op wie se erf van die stukke asbes beland het, beweer dat die stukke nie net tot vroeg in Julie daar rondgelê het nie, maar was ontstig toe hy klaarblyklik munisipale werkers aanvanklik van die grootste stukke sien verwyder het.
"Na al die praatjies wat ons gehad het oor die veilige en korrekte verwydering van asbes, was ek geskok om te sien hoe die munisipale werkers die goed net optel, sonder beskermende drag. Net met gewone 'Covid-maskers' en handskoene," het die inwoner berig.
LEES: Samewerking is dalk al uitweg vir Gouritzmonders
Wat die inwoner verder gegrief het, is dat die orige stukke asbes vir ongeveer 'n week na die storm nog op die sypaadjie bly lê het.
Die Hessequa-munisipaliteit het by navraag gesê dat hulle desondanks verbind bly tot dienslewering van 'n hoë standaard.
"Die veiligheid van ons werknemers, sowel as inwoners is uiters belangrik. Hoewel dit nie die verantwoordelikheid van plaaslike owerheid is om toe te sien dat die asbes verwyder word nie, het dit in die pad gelê wat 'n gesondheidsrisiko vir die inwoners van Gouritsmond ingehou het. Dit moes dus dringend verwyder word," berig die woordvoerder, Didi Budricks.
"Hessequa-munisipaliteit het 'n sloot-grawer gebruik om die asbes uit die straat te verwyder en intussen reëlings met 'n geregistreerde asbeskontrakteur getref om dit in 'n houer te plaas wat toegesluit kan word sodat die publiek nie toegang tot die asbes het nie. Alle oorblywende asbes sal deur 'n goedgekeurde geregistreerde asbeskontrakteur verwyder word wat die magtiging het om dit te verwyder, wat oor die personeel beskik wat opgelei is om die asbes te hanteer en die nodige beskermingsklere dra."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'