GROOT BRAKRIVIER NUUS - Sedert die meester van die Wes-Kaapse hooggeregshof, Zureena Agulhas Groot-Brakrivier op 12 Februarie die eerste keer besoek het, is heelwat vordering gemaak en spog die area deesdae met 'n satellietkantoor van die meester se kantoor wat by die munisipale kantore op Groot Brak ingerig is.
Die meester het bevestig dat 'n personeellid van hul kantoor voortaan elke Dinsdag vanaf 09:00 -15:00 by die Groot-Brakrivier munisipale kantoor beskikbaar sal wees om die publiek behulpsaam te wees met die aanmeld van boedels.
Me Inge Ontong, wat die meesterskantoor in Groot-Brakrivier gaan hanteer, is op Dinsdag, 2 April tydens die amptelike opening van die kantoor aan die gemeenskap bekendgestel.
'n Werkswinkel met die gemeenskapsleiers oor die rapportering van bestorwe boedels en die korrekte opstel van 'n testament sal waarskynlik binnekort gehou word. Die moontlikheid van 'n inligtingsveldtog vir die gemeenskap wat die belangrikheid van die opstel van 'n testament en die rapportering van bestorwe boedels sal tuisbring, is ook bespreek.
'n Satellietkantoor van die meester van die hooggeregshof is die afgelope Dinsdag op Groot-Brakrivier by die munisipale kantore geopen. Voor is Inge Ontong (weeklikse verteenwoordiger by die Groot Brak-kantoor), Tessa Josias (werknemer, departement justisie en aflos), Zureena Agulhas (meester van die hooggeregshof), Mbuwana (assistant-meester van die hooggeregshof) saam met gemeenskapsleiers en verteenwoordigers van die Groot-Brakrivier-gemeenskap.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'