Die kampioenskap het in die mooiste, denkbare weersomstandighede plaasgevind, wat bygedra het tot die feit dat geen speler die weer kon blameer vir swak spel nie.
Verrassings was nie uitgesluit nie, want na die eerste dag het een van die buiteperde, Jaco Erasmus, sy stem behoorlik dik gemaak deur op 76 houe die voortou te neem. Derek van Heerden het ook 76 houe aangeteken om die gesamentlike voorloper te wees. Die groot gunsteling, Johan Swanepoel (voorgee +4), het soos 'n honger roofdier sy prooi fyn dopgehou en na die eerste dag slegs een hou agter die voorlo-pers geëindig.
Met die aanbreek van die laaste 9 putjies op Sondag, het die spanning begin oplaai, met slegs 2 houe wat die voorste vier spelers geskei het. Johan van Rensburg het met 'n sterk eindpoging gekom en op 233 hou die 54 putjies voltooi. Die onervare Colin Brown wat hom goed van sy taak gekwyt het, het egter 'n nagmerrie laaste nege putjies beleef en het op 236 houe in die vyfde plek klaar gemaak. Ook Johan Strauss wat uitstekende gholf gespeel het, het oor die laaste nege putjies gestruikel en het saam met Donny Smith 235 houe aangeteken.
Met Johan van Rensburg (233 houe) in die Klubhuis, het almal asem opgehou oor die uitslag, want Johan Swanepoel was met 'n skrale voorsprong nog op die baan. Die 18de putjie het vereis dat Johan 'n syfer moes aanteken om die kampioenskap met een hou in te palm, wat hy dan toe ook vermag het en sodoende as klubkampioen vir 2014 gekroon te word.
Veels geluk, Johan met jou derde kampioenskaps-titel!
Die netto-wenner in die A-afdeling was Div de Villiers (218 houe) met Gavin Reynolds (220 houe) in die tweede plek.
B-afdeling
Die uitslae in die B-afdeling was as volg:
Bruto-wenner: Nevil Minnies (167 houe); Naaswenner: John Blythe-Wood (167 houe)
Netto-wenner: Johann van Langelaar (146 houe); Naaswenner: Raymond Murray (148 houe)
C-afdeling
Die uitslae in die C-afdeling was as volg:
Bruto-wenner: Gert Pieterse (93 houe); Naaswenner: Brian Power (96 houe)
Netto-wenner: Drik Leibbrandt (72 houe); Naaswenner: Elias Engels (73 houe).
Opregte dank aan Ou Mutual (Sieg Stander, Len en Johan Strauss) vir hulle borgskap oor die afgelope aantal jare.
Vrydagaande
Die wonderlike gees wat in die Klub vir jare geheers het, is vining besig om weer momentum te kry. Vrydagaande is stadig maar seker besig om weer die hoogtepunt van die week te word. Verlede Vrydagaand het lede na die 'Fantastic Raymond's Friday' kompetisie in groot getalle saamgebraai, gelag, geëet en mekaar se geselskap geniet.
Sakemanne Dag
Op Woensdag, 26 Maart het 176 spelers aan die gewilde Sakemanne Dag deelgeneem. Die gedugte kombinasie van Alwo Dercksen en Adriaan Maarschalk (46 punte) het in die A-afdeling van die beterbal stableford kompetisie die louere inge-oes. Naaswenners Johan en Boetie Swanepoel is na die uittel tweede geplaas.
Wenners in die ander afdelings was as volg: B-afdeling: Hendré Gericke en Riaan van der Westhuizen (48 punte), Naaswenners: JJ Joubert en Wayne Mitchell (46 punte). C-afdeling: André Bruwer en Basjan Roos (43 punte); Naaswenners: Nick Weideman en Pat Good (42 punte).
Saterdag
Saterdag, 29 Maart het die spelers wat nie aan die Klubkampioenskappe deelgeneem het, aan die individuele stableford kompetisie deelgeneem.
Uitslae was as volg: A-afdeling: Bertu Nel (36 punte); Annette Pretorius (33 punte). B-afdeling: Noël Hudson (40 punte); Nico Pienaar (39 punte). C-afdeling: Thys Greyvenstein (40 punte); Robert Strydom (35 punte).
Ons wag vir u Vrydagaand by ons gelukkige trekkings. 'n Heerlike gholfweek word u almal toegewens!
Len Strauss (links) en Johan Strauss (regs) van Old Mutual wens Johan Swanepoel, Klubkampioen 2014, geluk met die prestasie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'