MOSSELBAAI NUUS - Dawid Kamfer, tans dienende munisipale raadslid en Wes-Kaapse leier van ICOSA, is as dié party se burgemeesters-kandidaat vir Mosselbaai se opkomende plaaslike verkiesing aangewys.
Kamfer het tydens 'n spoggeleentheid op Mosselbaai sy bekendstelling verwelkom. Die president van ICOSA, Jeffrey Donson het die bekendstelling waargeneem.
Kamfer is die afgelope 17 jaar reeds betrokke by ICOSA en was 'n stigterslid van die party. Hy dien die afgelope 10 jaar as die provinsiale voorsitter van die party.
Daarbenewens is hy tans die nasionale voorsitter van die party se verkiesingskomitee vir 2021. Hy is reeds vyf jaar 'n munisipale raadslid op Mosselbaai en het in die voormalige Eden-distriksmunisipaliteit, tans Tuinroete, gedien as burgemeesterskomiteelid met die portefeulje toerisme.
Kamfer het oor die jare ook op talle ander strukture gedien, veral op sportgebied. Hy was betrokke by die Barbarians-rugbyklub plaaslik en het ook diens gedoen op die SWD Rugbyunie se uitvoerende raad.
Kamfer is bekend daarvoor dat hy 'n kampvegter vir armoedeverligting is en die kwelpunte van sy gemeenskap op die hart dra.
"As burgermeesterskandidaat, het ek net een mandaat. Dit is om die ongelykheid reg te maak sonder om mense te benadeel. Die bemagting van swart en bruin sakelui sal vir my en die party ononderhandelbaar wees nie, sonder dat wit sakelui in die dorp bedreig sal voel."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'