MOSSELBAAI NUUS - Die provinisiale leier van Icosa, Dawid Kamfer wat vanjaar ook dien as die party se verkiesingskoördineerder, het op Donderdag, 21 Oktober 'n dag voor die munisipale raad na hulle vyf jaar ampstermyn ontbind, as raadslid bedank.
Kamfer het in 'n sosiale media-inskrywing op sy persoonlike Facebook-blad beweer dat daar 'n "heksejag" teen hom was.
Hy is vroeër vanjaar beboet nadat hy skuldig bevind is aan 'n oortreding van die gedragskode vir munisipale raadslede.
Kamfer het in sy sosiale media-inskrywing verwys na 'n tweede tugsaak wat teen hom aanhangig gemaak is. Hy het by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat die klagte daaroor handel dat hy vrae in die media gestel het rakende die voormalige munisipale bestuurder, adv Thys Gllliomee se spesiale verlof. Kamfer het aangedring daarop dat die rede vir die verlof in die publieke belang, openbaar gemaak moet word.
Te midde bespiegeling onder die gemeenskap sedert Kamfer se bedanking as raadslid verlede week, dat hy intussen by 'n ander party aangesluit het, het Kamfer by navraag aan die Advertiser bevestig dat hy steeds as Icosa-kandidaat aan vanjaar se plaaslike regering verkiesing sal deelneem. Die waarnemende munisipale bestuurder, Colin Puren het by navraag gesê dat die munisipaliteit kennis geneem het van Kamfer se bedanking.
"Die aangeleentheid is aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie gerapporteer soos wat van die munisipale bestuurder se kantoor verwag word," het Puren bevestig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'