MOSSELBAAI NUUS - 'n Projek om veiligheid in Mosselbaai te bevorder het 'n stewige hupstoot gekry met die installering van kameras in Mosselbaai se sentrale gebied.
Twee kameras is reeds opgesit en gedurende die week sal 'n verdere twee geïnstalleer word.
Die installering volg op die herbevestiging van 'n raadsbesluit in Maart vanjaar aangaande die toelating van kameras as deel van sekuriteitstelsels ter beveiliging van die dorp. Volgens prosedure, is 'n openbare deelnameproses gevolg.
Volgens Leon van Dyk, voorsitter van die Mosselbaai-gemeenskapspolisiëringsforum ondersteun die Mosselbaai-munisipaliteit die inisiatief heelhartig, alhoewel nie finansieel. "Elke buurtwag moet self sorg vir die befondsing van sodanige stelsel in hulle area. Hierdie kamerastelsel is die uiteinde van samewerking tussen die Bo-dorp-, Onderdorp-, Heiderand- en Da Nova-buurtwagte. Ons is tans in die loodsfase van die projek om die toerusting te toets en bepaalde protokol op te stel."
Die beheersentrum is tans by die Mosselbaai-polisiestasie, maar ander moontlikhede is voorheen en word steeds ondersoek.
"Ons sal op 'n later stadium alle belanghebbende partye nooi om die beheersentrum te besoek sodat hulle kan sien hoe die stelsel werk.
"Op hierdie manier glo ons kan ons selfs groter samewerking en ondersteuning van die stelsels bewerkstellig."
Volgens Van Dyk, is die oogmerk om uiteindelik 15-20 kameras op strategiese punte in buurtwaggebiede te installeer. "Hierdeur kan ons meer pro-aktief wees in misdaadvoorkoming en meer aksies in samewerking met die polisie loods."
Elaine Gloy, (regs voor), voorsitter van die Da Nova-buurtwag, hou een van die kameras vas wat deel maak van Mosselbaai se nuut geïnstalleerde veiligheidstelsel. Saam op die foto is kapt September, bevelvoerder van die Mosselbaai-polisiestasie en Elmarie Landman, voorsitter van die Heiderand-buurtwag. Agter is Martie Loubser van die Onderdorp-buurtwag, Leon van Dyk, voorsitter van die Mosselbaai GPF en André Steenkamp, wat die kameras installeer.
'n Wakende oog oor Mosselbaai.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'