MOSSELBAAI NUUS - Menige van ons weet hoe dit voel as jou bankkaarte en lisensies gesteel word en watter beslommernis dit is om dit te vervang.
'n Besoeker aan Mosselbaai het egter nie daardie kopseer nie nadat haar kaarte in 'n asblik by die parkeerterrein by Die Broodmandjie en Moss Vis gevind is.
Volgens die bestuurder van Die Broodmandjie, Colin Middleton, het me Seymore Saterdagaand in 'n gastehuis naby die winkelsentrum tuisgegaan. Volgens inligting het sy 'n SMS ontvang wat aangedui het dat iemand 'n transaksie met van haar kaarte probeer doen het. Sy het agtergekom dat haar handsak gesteel is en het dadelik al haar kaarte gestop. Sy moes egter die volgende oggend vroeg na Pretoria terugkeer.
Buiten twee bankkaarte is haar ID-kaart en rybewys die volgende dag deur straatskoonmakers in 'n blou asblik voor Moss Vis gevind. Die kaarte is by Die Broodmandjie ingehandig en beide Middleton en die eienaar van Moss Vis het op verskeie elektroniese platforms die verlore kaarte aangemeld.
Seymore is via 'n bank in Pretoria opgespoor. Haar kaarte sal eersdaags deur 'n koerier aan haar teruggestuur word. Sy het al die rolspelers telefonies bedank vir hulle moeite om haar op te spoor.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'