MOSSELBAAI NUUS - Die Swarts van Mosselbaai is uiteindelik weer terug op eie bodem. Dít nadat hulle in Februarie vir hulle seun in Nieu-Seeland gaan kuier het en toe vanweë Covid-19 in dié land gestrand was.
Hulle het op 9 Junie 'n repatriasievlug vanuit Nieu-Seeland geneem. Hierna was dit sewe dae in kwarantyn in 'n hotel in Johannesburg.
Toe die uitslag van hulle Covid-19-toetse negatief is, is hulle verlede Woensdag, 17 Junie ontslaan en moes binne 72 uur in Mosselbaai wees. Op Saterdag, 20 Junie was hulle tuis.
Onvergeetlik
Ten spyte van die spanning en rompslomp, sien Anne die totale uniekheid van die gebeure raak. "Dit was 'n once in a lifetime ondervinding! Maar die verligting toe die vliegtuig land en die spontane applous waarmee die landing begroet is, was 'n teken van almal se dankbaarheid." Daar was 217 passassiers op die vlug.
Die passasiers se temperatuur is in Auckland geneem voor die vlug en toe weer in Brisbane, Australië. Gedurende die vlug na Suid-Afrika is dit weer drie keer geneem.
Hier te lande, het die departement van gesondheid elke passasier individueel op die vliegtuig getoets.
"Ons het in groepe uit die vliegtuig geklim. Dit het 'n verdere twee uur geneem. Ons is deur paspoortbeheer en met bussies van agt tot nege passasiers terug na die vliegtuig om ons bagasie te kry. Dit was op die aanloopbaan uitgepak."
Hierna vertel Anne was dit 'n verdere gewag om te besluit wie waarheen moet gaan. "Dit was erg frustrerend. Jy's doodmoeg na 'n senutergende reis en jy beland in 'n 'they are negotiating, they are organising'-situasie."
Bussies is toe onder bloulig-begeleiding na hotelle, waar hulle een vir een ingeboek is. "Nóg 'n ewigheid, want ons was in die voorlaaste bussie."
Kwarantyn
Anne vertel dat die kwarantynweek ook nie grappies was nie. "Jy mag nie jou kamer verlaat nie. Al drie jou etes word daarheen gebring. Na ontbyt en middagete is elkeen se temperatuur by die kamer geneem. Geen personeel is in die kamers toegelaat nie en ons is toegerus met ons eie sak skoonmaakmiddels."
Hulle kon darem onder toesig 20 minute lank in die parkeerterrein stap.
Diegene wat negatief getoets het is 'n week later ontslaan, maar is versoek om die oorblywende sewe dae in self-isolasie deur te bring.
Nadat Anne en haar man Johan hulle toetsuitslae ontvang het, moes hulle die uitslae, asook hul ontslagdokumente na die polisiestasie neem vir die uitreiking van die nodige reisdokumente.
"Ons moes permitte kry om oor drie provinsiale grense te reis. Slegs by Colesberg is ons by 'n polisiepadblokkade gestop. By twee ander kon ons net deurry."
Soveel stories
Anne meen dat elke persoon wat gedurende die grendeltydperk in die buiteland gestrand was, hulle eie Covid-19-storie kan vertel. En party hiervan, sê sy, is waarlik rillers.
Tóg was dit wonderlik om te sien hoe Suid-Afrikaners mekaar gehelp en gedra het, veral deur middel van groepe op sosiale media soos Home Away From Home. Sy vertel hoe jong manne uit hulle pad gegaan het om verwarde ouer vroue elke tree van hierdie terugtog by te staan.
Die Swarts moes hulle voorafbetaalde vlugkaartjies verbeur. "Ons kon ons binnelandse vlugkaartjies uitstel en die Qantas-terugvlug is omgeskakel in geskenkbewyse." Maar hulle reisversekering het gedurende die grendeltydperk verval. Ons het e-posse gestuur om uitstel of verlenging te probeer reël, maar nou ja - no reply!" Die koste van hulle repatriasievlugte was R21 500 per persoon.
Nietemin is hulle baie bly om tuis te wees. "Baie dankie vir vriende en familie wat ons met e-posse en WhatsApp-boodskappe in hierdie inperkingstyd gedra het. Nooit in my lewe het ek gedink ek sou so bid vir 'n vliegtuig nie."
Vorige artikel: 'Ons soek net 'n vliegtuig'
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'