MOSSELBAAI NUUS - 'n Jong man en sy vriende wat bloot 'n paar tonele vir die pret verfilm het, sou nooit kon dink dat die eerste episode van hulle drama, Agter die plate so 'n treffer sou wees nie.
Sedert die eerste episode van Agter die plate aanlyn op YouTube beskikbaar is, het dit 7 200 trefslae gehad.
Boonop, is dit nie net jonges wat hiervan kennis geneem het nie, maar ook volwassenes, soos plaaslike ampsbekleërs en rolspelers in die uitvoerende kunste.
Die drama handel hoofsaaklik oor die donker wêreld van dwelmhandel en -afhanklikheid sonder om doekies om te draai.
Anthony Benn woon in Uitbreiding 8 en die Mossel Bay Advertiser het met hom gesels, te midde die verfilming van episode twee, wat binnekort beskikbaar sal wees.
Hy vertel dat hy aan die storie gekom het bloot deur waar te neem wat rondom hom aan die gang is. Sy doel met die drama was om te wys hoe dinge "agter die plate" gaan.
"Ek wil vir ons jongmense wys wat regtig gebeur sodat hulle beter besluite kan neem. Hulle moet die nagevolge van al hierdie dinge kan sien en so besef, dis nie 'n lewe vir 'n jongmens nie."
Hy het aanvanklik alles self geskryf en sy vriende as akteurs gebruik. Anthony skryf self die teks en het ook as regisseur opgetree. Geen van die akteurs het vorige ondervinding in toneelspel nie.
"Ons het maar so 'n scene geskiet en dan weer gelos. Ons het nie eens regtig vreeslik moeite gedoen nie. Maar nou dat dit soveel aandag getrek het, werk ons amper elke dag."
Met al die aandag op hulle, is dit nou ernstige sake.
"Ek het 'n vriend, Wayne October wat my help skryf. Ons skryf saam aan dieselfde dialoog en voeg dan die beste idees saam. Ook die akteurs, is excited. Hulle is nou sommer ernstig oor die movie-besigheid," vertel hy.
Hy weet nog self nie hoeveel episodes kykers kan verwag nie.
"Hy gaan maar so aan en aan. Ek weet nie waar hy gaan stop nie. Ek het nie 'n antwoord vir hoeveel episodes ons gaan maak nie."
Hy sien homself in die toekoms as die hoof uitvoerende beampte van sy eie filmmaatskappy. Maar wat Agter die plate betref, droom hy van 100 000 trefslae.
"'n Groot audience. Daai's wat ek wil sien."
Raadsdame Venolea Fortuin het gister, 17 Junie al die betrokkenes by Agter die plate tydens 'n geselligheid in die Mosselbaai-stadsaal ontmoet en hulle met hulle werk gelukgewens.
'n Toneel uit Agter die plate.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'