Sy het telkens aan kiesers gevra of hulle vir die komende nasionale en provinsiale verkiesing geregistreer is om te kan stem, en het 'n oorweldigende positiewe antwoord gekry.
Groot Brak
Op Vrydagmiddag, 31 Januarie het verskeie woonbuurte in Groot-Brakrivier aan die beurt gekom en opgewonde DA-lede kon nouliks hul opgewondenheid om hul partyleier te sien, bedwing. Van oraloor het mense in die party se kenmerkende blou T-hempies opgedaag en gejuig toe mev Zille uiteindelik opgedaag het.
Haar slag om met gewone mense oor kwessies wat hulle na aan die hart lê te kommunikeer, was tekenend.
"Hoekom moet ek stem?" het sy gevra. Sy het gewys op die talle wyses waarop die gemeenskap daagliks met regeringsinstansies skakel of van regeringsdienste gebruik maak.
"Die regering is soos 'n leer met baie sparretjies. Elke sparretjie is 'n geleentheid; vir swanger vroue is daar klinieke, bied die klinieke die geleentheid om in veilige omstandighede geboorte te gee. Nog 'n sparretjie is die verskillende toelaes wat die regering gee. 'n Ander sparretjie is die skool.
"Die regering gee die sparretjies of trappies op die leer, maar verwag dat die gemeenskap die leer moet klim, die leer se geleenthede moet gebruik. Die regering vra dat almal hul deel moet doen. Die regering verwag dat ouers 'n verantwoordelike voorbeeld moet stel. 'n Kind het die reg op verantwoordelike ouers, ouers wat omgee.
"Ouers wat omgee, sal nie hul kinders aan drank en dwelms blootstel nie. 'n Dwelmver-slaafde word die slaaf van dwelms en sal enigiets doen om dwelms in die hande te kry. 'n Dwelmverslaafde verwoes sy en ander se lewe en toekoms deur sy eie toedoen.
"Die regering bou die leer deur geleenthede daar te stel, maar elkeen moet die leer self klim," het mev Zille gesê, "Elkeen moet vra; doen ek my werk?
"Kinders moet hard leer, geleenthede wat hulle kry gebruik, onafhanklikheid nastreef, verantwoordelik wees en weet dat net hulle hul drome kan verwesenlik.
"Ek sien die hart van 'n mens, nie sy velkleur nie," het sy afgesluit.
In Groot-Brakrivier is sy verras met 'n geskenk van mev Martha van Rooyen, voorsitter van die Huisvroueklub, en het ook laventelplantjies van die Friemersheim gemeenskap ontvang.
KwaNonqaba
"Drank en dwelms veroorsaak meer tragedies in die Wes-Kaap as enige ander probleem," het mev Zille in KwaNonqaba gesê.
Aan huis van John Riddles, voormalige SWD-atleet wat talle medaljes losgehardloop het, het mev Zille dit ook beklemtoon dat elkeen uit ander se lewenslesse moet leer.
Mnr Riddles het na 'n besoek aan 'n sjebeen in 'n onderonsie betrokke geraak en is herhaaldelik met 'n mes gesteek en is in die proses verlam.
"Leer uit wat met John gebeur het. Die mense wat hom met 'n mes gesteek het, was waarskynlik agter geld vir dwelms aan.
"Tot 80% van misdaad in die Wes-Kaap is die gevolg van drank en dwelms. In 100% van gevalle van gesins- en kindergeweld speel drank en dwelms 'n rol."
Eie keuse
"Moenie probleme erger maak nie, bly in beheer van jou lewe. Ouers moet hul verantwoordelikhede ernstig opneem. 'n Pa moet sy kind leer wat is reg en wat is verkeerd. Ouers moet altyd weet waar hul kinders is, sodat kindermishandeling stopgesit kan word. Wees verantwoordelik!"
Mev Zille het gesê dit is tyd dat 'n nuwe nasie gebou word waar die regering sy plig nakom, en waar die gemeenskap ook hul plig teenoor die regering nakom.

Ook in KwaNonqaba wou DA ondersteuners 'n vinnige woordjie met hul partyleier, Helen Zille, wissel. Foto's: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'