MOSSELBAAI NUUS - 'n Amateurproduksie uit die vroeër jare 2000, het die gemeenskap van Mosselbaai nog al die jare aan die praat. Dié produksie was die legendariese Joan van Niekerk se weergawe van Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat.
In Desember 2021, het een van die kostuums wat in die produksie gebruik is, sy pad terug na Mosselbaai gevind en is dit geskenk aan 'n plaaslike onderneming waar onder meer kostuums gehuur kan word.
Die kostuum, is die hoofkarakter, Joseph se sogenaamde dreamcoat.
Die Mossel Bay Advertiser het wyle Van Niekerk se dogter Jo-Anne Frehse oor 'n paar besonderhede uitgevra, maar sy was tydens die produksie se opvoering in die buiteland.
Die naasbeste oplossing was om Joseph op te spoor. Dickie Knell, wat destyds die hoofrool in die musiekblyspel vertolk het, woon tans in Nieu-Seeland.
Twee jasse
"Dit was 'n baie opwindende projek. Ek herleef dit alles sommer weer soos ons gesels," het Knell via WhatsApp aan die Advertiser gesê.
Hy was in sy vroeë 40s toe hy Joseph vertolk het. Sy jas onthou hy goed. Dit was sy oorlede ma, Buks se inisiatief. Sy was 'n kranige naaldwerkster en het nadat sy 'n video van die musiekblyspel gesien het, haar weergawe van die jas gemaak. Daar was twee jasse. Een wat ek in die openingstoneel gedra het en later eindig die musiekblyspel met 'n jas wat letterlik so groot soos die verhoog was. Amper soos 'n sirkustent met 'n gat waardeur my kop kon pas," onthou Knell.
Dis die eergenoemde jas wat tans weer terug op Mosselbaai is.
Sowat 25 sangers en akteurs het aan die produksie deelgeneem. Boonop was daar ook 'n kinderkoor van 'n plaaslike laerskool wat saam die openingslied, Any dream will do help sing het. Daar is ongeveer vyf maande lank gerepeteer om die produksie seepglad te kry, onthou Knell.
Vier agtereenvolgende aande, was die Mosselbaai-stadsaal stampvol vir die uitverkoopte vertonings.
Joan van Niekerk in haar jong dae.
'n Groot droom
"Dit was alles geheel en al tannie Joan se inisiatief. Sy het daaroor gedroom om Joseph om die planke te bring. Dit was 'n ambisieuse droom, want nie een van ons was professioneel nie. Boonop was sy al in haar tagtigs toe ons dit aangepak het. En watter ervaring was dit nie om met haar te werk nie?"
Van die grootste uitdagings, meen Knell, was om saam met die voorafvervaardigde klankbaan te sing.
"Ek was dit gewoond, uit hoofde van my vorige ervaring as sanger en musikant, maar van die ander het baie gesukkel. As jy op die verkeerde plek inval, loop 'n hele lied sommer deurmekaar. Soms het ek met my rug na die gehoor en selfs tydens 'n kostuumverandering vanuit die kleedkamer skelm saamgesing sodat die groep die regte noot het en weet waar om in te val," onthou Knell.
Dickie Knell (middel)
Daar was 'n hele paar prettige momente ook.
"Toe Joseph gegryp en sy jas afgeruk word toe hy deur sy broers verkoop is, het 'n dogtertjie in die tweede ry baie geskok opgespring. Haar ma moes mooipraat om haar tot bedaring te bring, sonder om die storie te verklap. En juis hierin, het die mooi boodskap van Joseph se storie na vore gekom." Van Joseph se "broers" was ouer manne en êrens op 'n kol moes hulle volgens die teks op die grond voor hom lê, nadat sy naam in ere herstel is.
"Dit was baie snaaks. Een van die omies het gesê dis als reg, hy sal op die grond lê, hy kan net nie vansself weer regop kom nie. Iemand moes hom net help."
Dickie Knell oftewel Joseph saam met sy dogter. Hy woon tans in Nieu-Seeland.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'