MOSSELBAAI NUUS - Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) se missie is om toekomstige jagters en vuurwapenliefhebbers se liefde vir die natuur aan te wakker en respek vir die natuur te vestig.
Die beginsels van etiese jag en die veilige hantering van vuurwapens word sterk beklemtoon.
Op Saterdag, 14 Mei het SJB weer 'n suksesvolle junior skietkliniek by die Wouter de Vos-skietbaan aangebied.
Ses-en-twintig studente het vir die geleentheid by die skietbaan aangemeld. Die teorie is deur Hugo Moolman en Natie Fourie aangebied.
Dit het gehandel oor vuurwapenveiligheid en die korrekte hantering van vuurwapens.
Ná die teorie het die praktiese gedeelte van die skietkuns aangebreek.
Opleiding is deur ervare en topskuts van die vereniging aangebied en studente is geleer hoe om vanuit die lê-, sit- en staanposisie te skiet.
Sommige studente het vir die eerste keer met 'n wapen in aanraking gekom.
Daar word beplan om die skietkliniek 'n jaarlikse instelling te maak. Belangstellendes kan 'n e-pos stuur na info@suidkaapjagters.co.za
Die volgende aktiwiteit op die SJB-kalender is die geborgde handwapenskiet wat op 16 Junie by die Wouter de Vos-skietbaan plaasvind. Vooraf inskrywings sluit 13 Junie en lede en nie-lede is welkom om in te skryf.
Juniors moes mooi konsentreer en is deur ervare topskuts dopgehou.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'