MOSSELBAAI NUUS - Die afgelope 42 jaar leer jong mans wat aan die Grosvenor-oorlewingskursus deelneem 'n paar lewensveranderende lesse. Vir die 21 seuns tussen 16- en 18-jarige ouderdom wat op 1 Desember by Wildernis weggespring het om aan die sewe dag lange avontuur deel te neem, wag 'n soortgelyke ervaring.
Ewald Crause, oor die jare heen bekend as Seevader, het hierdie avontuurkursus begin en dit is geskoei op ware gebeure soos vervat in die geskiedenis van die Grosvenor, 'n skip wat gestrand het in 1782 aan die Wildekus. Aanvanklik het 123 van die 141 siele aanboord die skipbreuk oorleef.
Die skeepskaptein het egter besluit dat die groep die Kaap van Goeie Hoop moes probeer bereik, wat volgens sy berekeninge sowat 16-17 dae se stap weg was. Uiteindelik, het 'n groep van slegs 18 oorlewendes vroeg in 1783, die Kaap bereik na 'n staptog van 100 uitmergelende dae.
"Die Grosvenor is daarop geskoei dat die deelnemers moet kan oorleef in die omstandighede en met die middele wat die destydse skipbreukelinge tot hulle beskikking gehad het," veduidelik instrukteur, Kosie Gericke, wat vanjaar die Grosvenor vir die 18de keer aanpak.
"Die kursus se leuse is karakteropvoeding deur avontuur, wat die fokus in sy geheel ook opsom. Hierdie kursus bied seuns die geleentheid om hul ware karakter te ontbloot en aspekte soos selfdissipline, wilskrag, spanwerk en leierskap word getoets."
Die avontuurbelaaide staptog eindig op 8 Desember wanneer die jongelinge wat deelgeneem het, tydens 'n prysuitdeling by die Hartenbos Seefront erkenning vir hul uithouvermoë sal kry.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'