MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai spog met een van slegs twee Suid-Afrikaanse senior bofbalskeidsregters wat aan die internasionale bofbalskeidsregtersvereniging se senior paneel behoort. Malcolm Johnson, werksaam by PetroSA, het met 20 jaar se ondervinding as skeidsregter in dié sport, Suid-Afrika van 17 tot 28 Oktober in Colombië by die o. 23-Wêreldbekerkampioenskappe verteenwoordig.
Die ander SA internasionale skeidsregter is Edwin Webb van Kaapstad. Johnson is 'n vlak vyf skeidsregter, die hoogste vlak van bofbalskeidregters. Behalwe vir Johnson en Webb is daar nog vyf SA skeidsregters wat wedstryde op internasionale vlak hanteer.
Johnson, 'n boorling van Pacaltsdorp, het op skoolvlak in 1990 by Hoërskool Pacaltsdorp bofbal begin speel, waarna hy 'n skeidsregter geword het. In 2006 is hy gekies as 'n SA bofbalskeidsregter, waarna hy in die internasionale paneel opgeneem is.
Sy ondervinding as 'n skeidsregter wat jaarliks by die SA bofbalkampioenskappe optree, tesame met sy optrede in Colombië, het vir hom 'n plek besorg as deel van SA bofspelers se voorbereiding vir die 2020 Olimpiese Spele in Japan. Die kwalifiserende wedstryde vir Afrika vind volgende jaar in Suid-Afrika plaas omdat die nasionale span die Afrika-kampioene is en daarna volg die Europese kwalifiserende wedstryde.
Sy kanse is ook goed om by die Olimpiese Spele self wedstryde te hanteer. Verlede week het Johnson 'n internasionale reeks van sewe, tussen Frankryk en Suid-Afrika, in Kaapstad hanteer.
Die vier internasionale skeidsregters verlede week tydens 'n internasionale reeks tussen Frankryk en Suid-Afrika in Kaapstad, van links: Marc Cupido, Edwin Webb, Malcolm Johnson en Denis Philander.
Volgens Johnson is bofbal besig om te groei in SA. Hy is egter van mening dat dié sport groot op skoolvlak beoefen moet word om meer spelers op te lewer. "Daar is baie talent, maar min geleenthede," het hy gesê.
Oor die Colombië-kampioenskappe se ondervinding is hy baie opgewonde. "Die wedstryde is geweldig vinnig. Die mense daar leef vir bofbal as sport."
Hy het 16 van die 48 wedstryde hanteer en het selfs as televisieskeidsregter opgetree.
Malcolm Johnson en sy mentor, Jairo Mendoza van Nicaragua, Sentraal-Amerika.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'