MOSSELBAAI NUUS - 'n Jaar nadat 'n siggestremde vrou van Mosselbaai en haar gidshond die deur gewys is by die plaaslike kantore van 'n staatsdepartement, is alles in plek vir 'n eis teen die departement van binnelandse sake op Mosselbaai.
In Augustus 2017, het die Mossel Bay Advertiser (Siggestremde en hond die deur gewys, 25 Augustus 2017) berig oor Amanda Bester, haar ma Diane Roets en Amanda se gidshond, Reo wat tydens 'n besoek aan die kantoor van binnelandse sake op 17 Augustus by die Thusong-sentrum, KwaNonqaba 'n bloutjie geloop het skynbaar vanweë onkunde aangaande die toegangsregte van gids-, diens- en outisme-ondersteuningshonde.
Die vroue wou 'n huweliksertifikaat bekom toe personeel van binnelandse sake glo die vroue, of liewer Bester se gidshond, Reo die deur gewys het.
Hoewel die vroue glo Amanda se toegangskaart van die gidshond-vereniging aan die personeel getoon het, moes hulle ten einde raad vir Reo in hulle motor gaan sit. Webber Wentzel-prokureurs in Kaapstad hanteer die litigasie in 'n eis teen die minister van binnelandse sake en die departement van binnelandse sake, as onderskeidelik die eerste en tweede respondente, namens die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging en Amanda Bester, as die eerste en tweede aansoekers.
Die eis word ingestel op grond daarvan dat daar vanweë haar gestremdheid, onregverdig teen Bester gediskrimineer is ten opsigte van haar reg op toegang na die depar-tement binnelandse sake se kantore.
"Die instel van 'n eis teen binnelandse sake is deur die Gidshond-vereniging self gemaak. Ons het hulle gekontak en vertel van wat daar gebeur het en hulle het die saak verder geneem. Ons is bly dat die eis ingestel is. Dit sal hopelik die publiek meer bewus maak van die regte van 'n gestremde met 'n gidshond. Ons hoop dat werkgewers hul personeel sal bewus maak dat hierdie honde toegelaat moet word, veral die sekuriteitspersoneel," het Diane Roets by navraag gesê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'