Twee spanne van die sentrum het vanaf 6-9 Februarie deelgeneem aan ‘n rugby- en sokkertoernooi teen St Alban’s in Port Elizabeth, waartydens die Suid-Kaap teen die St Alban’s-bestuursarea gekompeteer het. Ten spyte daarvan dat dit die eerste keer is dat die Suid-Kaap aan hierdie toernooi deelneem, was die spanne se spelpeil op ‘n hoë standaard.
Die Jeugsentrum is die enigste korrektiewe sentrum in die Suid-Kaap wat oor ‘n sportakademie beskik. Volgens mnr Jansen van die sentrum, wie ook gemoeid met die spanne se afrigting is, toon die oortreders wat by die akademie se sportontwikkelingsprogramme betrokke is, ‘n duidelike gedragsverandering, veral wat disspline betref.
Hy het verder toegegee dat dit so te sê ‘n sprekende voorbeeld is van die spreekwoord wat lui, "’n gesonde ligaam huisves ‘n gesonde gees". Jansen het wel gesê dat die Jeugsentrum groter gemeenskapsbetrokkenheid by die sportakademie sal verwelkom, veral wat betref spesialis-vaardighede.
“Ons moedig kundiges in die gemeenskap aan om betrokke te raak by die sportakademie. Die spelers kan doen met ‘n goeie spanpraatjie deur ‘n sielkundige of dalk ‘n fisioterapeut wat kan kom gesels oor beserings,” sê Jansen.
Enige persone wat graag hulle kundigheid vir die Jeugsentrum se sportakademie wil aanbied, kan die sentrum skakel by 044 606 6532 of 606 6555 en met mnre Jansen, Bzuidenhout, Geldenhuys of Gunguluza gesels.
Die Jeugsentrum se sokkerspan het goed gevaar in die onlangse toernooi teen St Alban's in Port Elizabeth. Hier is hulle saam met die Hoof van die Jeugsentrum (links), mnr P Busch, en mnr Kwinana, 'n lid by die sentrum.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS