MOSSELBAAI NUUS - 'n Vyf-en-sewentigjarige vrou is in Hartenbos deur 'n onbekende man aangerand toe sy in die omgewing van die ATKV-amfiteater gestap het.
Volgens inligting het die vrou op 3 November omstreeks 12:45 alleen deur die amfiteater gestap toe die voorval gebeur het.
Die verdagte het die vrou geforseer om 'n serp wat om haar gewrig gedraai was te verwyder, maar toe sy weerstand gebied het, het hy haar teen die amfiteater se hek vasgedruk sodat sy gevolglik kneusmerke opgedoen het.
Hierop het die verdagte glo gedreig om haar te verkrag. Die vrou het ontvlug en alarm gemaak. Die verdagte het op die vlug geslaan en is steeds soek.
Hy word beskryf as ongeveer 18 jaar oud, skraal gebou en 1,65 m lank. Hy is Afrikaanssprekend en het ligte, kort hare en grys oë.
Die Da Gamaskop-polisie versoek enige persoon met inligting, om konst Nelly Manyhonta te kontak (044 606 2200).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'