Gallery
MOSSELBAAI NUUS - AfriForum jeugtakke van Mosselbaai, George en Oudtshoorn het onlangs 'n naweek by die Ubuntu Wildlife Sanctuary op die R328 tussen Hartenbos en Oudtshoorn deurgebring. Ubuntu Wildlife Sanctuary is 'n nie-winsgewende organisasie wat na 15 leeus en twee tiere omsien. Die diere is almal gered uit baie slegte plaaslike en internasionale omstandighede van so ver as Oekraïne en Argentinië.
Die AfriForum jeugtakke het die naweek van 19 November deelgeneem aan 'n werksprogram vir vrywilligers waar hulle meer van die diere en hulle herkoms kon leer.
FOTOGALERY: AfriForum jeugtakke woon Ubuntu Wildlife Sanctuary by
As deel van die program het hulle gehelp om die twee tiere, Kanye en Tika, se kampe skoon te maak.
Volgens Abigail Jansen van Rensburg, is dit belangrik om te help om ons erfenis te bewaar. "Ons as AfriForum Jeug en ander jongmense moet die spreekbuis wees vir dié wat nie kan praat nie. Hierdie diere is almal uit haglike omstandighede gered en kan nie weer vrygelaat word in die natuur nie. Hulle het dus mense soos ons se hulp nodig om te oorleef. Die Ubuntu veldwagters het ons baie geleer van die natuur en ook oor die oorsprong van die unieke rotstekeninge wat op die plaas te siene is. Dit was 'n absolute unieke belewenis wat ons vir alle jeug sal aanbeveel."
Volgens Lukas Swart, van Ubuntu Wildlife Sanctuary, word tente verskaf en daar is 'n groot boma vir lekker kuier om die vuur.
"Die oornagplekke het skoon bad- en stortgeriewe en daar is genoeg ligte wat met 'n kragopwekker werk. Die kampterrein is baie skoon met netjiese braaigeriewe. Vir dié wat die gerief van 'n bed verkies, is daar 'n lieflike plaashuis waar agt gaste kan oorbly."
Hoewel dit die hoofdoel van Ubuntu Sanctuary is om roofdiere te red, word daar ook baie klem gelê op ander fasette van ekotoerisme. Drie nuwe staproetes is onlangs gevestig en is op 4 Desember amptelik geopen met 47 stappers wat deelgeneem het. Kontak Lukas Swart op info@ubuntuwild.com vir enige navrae.
Daar is onlangs drie staproetes by die Ubuntu Wildlife Sanctuary bekendgestel.
Magnus Stone, Jana Naude, Abigail Jansen van Rensburg, Riandri Groenewald, Ruan Jansen van Rensburg, Frans Aldrich, Jan Pretorius, Jo-Rina Grobler, Lizl van der Westhuizen en voor Marthinus Stone van AfriForum Jeug Mosselbaai tydens hul verblyf by die Ubuntu Wildlife Sanctuary.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'