Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Gedenkdiens is op Dinsdag, 19 Oktober by Diaz Primêre Skool op Mosselbaai vir Jason Nomdo (9), 'n voormalige leerder van die skool gehou.
Jason het op 6 Oktober by Diasstrand verdrink. Hy het op die strand met sy bal gespeel toe die bal in die water beland. Jason is agter die bal aan die see in. Hy kon nie swem nie. Hoewel 'n grootskaalse soektog na sy verdwyning geloods is, is Jason se liggaam nie dieselfde dag gevind nie. Sy ma, Katrina October het vyf dae nadat hy vermis geraak het strandlangs gestap en toe op sy liggaam tussen die rotse by Diasstrand afgekom.
Die diens by die skool is deur pastoor Newton Brandt gelei.
Brandt het vir die kinders en onderwysers uit Romeine 8, vers 22-23 voorgelees.
Jason se klasmaats het vir hom briefies geskryf en die skool het tydens die geleentheid die briefies aan Jason se ouers oorhandig. Duiwe is na afloop van die diens vrygelaat. Leerders het die lied, Môre sal die son weer skyn tydens die vrylating gesing.
FOTOGALERY: Gedenkdiens vir Jason Nomdo
Personeellede van die skool en familie van Jason het daarna 'n kruis in die water by Diasstrand neergelê.
VIDEO: Gedenkdiens van Jason Christopher Nomdo
'n Gedenkplaat is vir Jason Nomdo (9) by die skool opgerig.
'n Kruis word vir Jason in die water by Diasstrand waar sy liggaam uitgespoel het neergelê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'