MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Sowat 300 mense het Dinsdagaand op Hartenbos saamgetrek vir Jan Braai se nasionale braaitoer en van vroegmiddag reeds het deelnemers se vuurtjies geknetter terwyl die kele goed ge-olie is met allerlei vloeibare versnaperinge.
Jan Scannell, oftewel Jan Braai, se oogmerk is om oudergewoonte vanjaar soveel moontlik Suid-Afrikaners om 'n vuurtjie saam te trek op 24 September, Nasionale Erfenisdag, wat danksy sý toedoen reeds ook as Nasionale Braaidag gestalte gekry het.
Hy meen hoe meer mense saam braai, hoe minder kan mense van mekaar verskil. Dié toer is dan 'n gepaste voorloper en skep bewustheid vir Nasionale Braaidag.
Mosselbaai en George se manne, Julian Muller, Denver Strydom, Emile du Preez en Hennie Nelson het bewys dat gestremdes die ander manne kan opdreun as dit by pret kom.
Talle deelnemers aan dié toer stem heelhartig saam dat die gees aansteeklik is en op die kampterrein is heerlik en tot laataand gekuier terwyl om die vuurtjies 'n feesmaal - onder meer hoendermayonnaise-broodjies - opgedis is.
Vroeër die dag is vir die eerste keer een van Jan se eie nuutskeppings, die Durkie-hoendervlerkies op die kole beproef. Moenie dink dit behels net hoender in 'n marinade nie, a la Jan Braai is daar 'n kinkel in die kabel wat hy in 'n video op die Mossel Bay Advertiser se webblad by mosselbayadvertiser.com verklap.
Die toer het die afgelope Saterdag afgeskop en eindig môre, Saterdag 15 September in Port Elizabeth.
Kyk 3 video's hieronder
Lees 'n vorige artikel: Jan Braai kuier op Hartenbos
Ons bring jou Mosselbaai en Tuinroete nuus