Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Die nasionale Borgwardklub het vanaf Donderdag, 10 Februarie in Hartenbos gekuier en het Vrydag, 11 Februarie die klub se 60ste verjaardag by Eight Bells gevier.
Die Borgward-motors was ook die afgelope naweek by die 25ste George Oumotorskou te siene saam met verskeie ander voertuie.
Die Suid-Afrikaanse Borgwardklub is die oudste Borgwardklub ter wêreld. Dié klub is op 2 Junie 1961 in Kaapstad gestig. As gevolg van Covid-19 kon die 60-jarige viering nie in 2021 plaasvind nie.
Carl Borgward (1890-1963) se motorvervaardigingsaanleg was in Bremem, Duitsland geleë. Hy het vier handelsmerke bemark naamlik Borgward, Hansa, Goliath en Lloyd.
Borgward se fabriek het hoofsaaklik verkoelers gemaak vir die Hansa-Lloyd-groep. Tussen 1929 en 1931 het hy die Hansa-Lloyd-groep bekom.
Die eerste voertuig wat deur Carl Borgward ontwerp is, was die 1924 Blitzkarren. Dit was 'n driewiel met 'n bak voor en 'n 1.5kW enjin wat baie gewild onder klein sakeondernemings was vir die vervoer van goedere en produkte.
VIDEO: Borgward Isabella's
VIDEO: Borgward eienaars kuier in Hartenbos
VIDEO: Meer oor Carl Borgward en sy motors
In 1950 was die Borgward Isabella een van Duitsland se premium voertuie en is baie van die Isabellas in verskillende modelle ingevoer na Suid-Afrika.
Volgens Pieter Botha, voorsitter van die Borgwardklub se Noord-streek is daar ongeveer 150 geregistreerde lede in die nasionale Borgwardklub.
Borgward het ook in sy bedryf 'n paar eerstes daargestel. Hy het die eerste bak en onderstel vervaardig wat aanmekaar is.
Ook het hy die eerste lugveerstelsel ontwerp in plaas van meganiese en veerstelsels. Die eerste stasiewa het ook uit die Borgward-stal gekom, asook die brandstof-inspuiting konsep met sy Goliath 3 silinder 2-slagenjin.
Te veel ysters in die vuur en te veel produkte het eindelik Borgward se ondergang, asook sy dood beteken.
Die handelsmerk het weer in die 21ste eeu herleef met die Stuttgart gebaseerde Borgwardgroep AG ontwerp en bemarking van voertuie wat in China vervaardig is.
Borgward-eienaars, familie en vriende by die saamtrek by Eight Bells om die nasionale Borgwardklub se verjaarsdag te vier. Foto's: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'