MOSSELBAAI NUUS - Die Mossel Bay Advertiser het inwoners gevra of hulle die middel, ivermektien vir die behandeling van Covid-19 sal gebruik.
Die middel is nog nie vir menslike gebruik in Suid-Afrika goedgekeur nie en daar is ook nog nie 'n klinkklare antwoord vir of dit wel vir die behandeling van Covid-19 effektief is nie.
Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte gaan eersdaags begin om gekontrolleerde toegang tot ivermektien vir gebruik teen Covid-19 verleen.
Intussen blyk dit dat inwoners wel die middel sal gebruik, ten spyte van die tekort aan goedkeuring en navorsing. Rika Buitendag sê: "Daar is mos genoeg bewyse dat dit werk. Ons is moordenaars as ons mense laat doodgaan terwyl daar 'n middel is om dit te verhoed.
Natuurlik sal ek dit drink as ek siek word. Of dit nou net vir diere getoets is maak mos nie saak nie, solank dit net help en solank ek net nie soos n skaap blêr nie."
Mosselbaaier, Piet van Heerden sê hy sal dit verseker gebruik, maar slegs as hy siek word. Ruth Moss sê sy sal dit gebruik, maar sal dit nie graag wil drink nie.
"Jy kan 'n klein hoeveelheid (ongeveer 2ml) onder die sagte dele van jou arms en binnebene aansmeer sodra jy met Covid-19 gediagnoseer is."
Intussen het 'n navorsingsmaatskappy wat deur die Universiteit van die Vrystaat besit word, Farmovs, 'n kliniese studieprotokol begin opstel om die doeltreffendheid van ivermektien vir die behandeling van Covid-19 te toets.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'