GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die polisie op Groot-Brakrivier ondersoek 'n saak van openbare geweld nadat inwoners van Wolwedans op Dinsdag, 26 April oproerig geraak het weens ongelukkigheid omdat ander inwoners glo krag steel.
Volgens die polisiekommunikasiebeampte, sers Laurianne Botha het Mosselbaai-munisipaliteit kort voor die voorval onwettige kragverbindings verwyder.
'n Inwoner het aan die Mossel Bay Advertiser gesê: "Ons inwoners van Wolwedans is keelvol. Ons wat krag betaal se elektriese toestelle pak gereeld op weens die onwettige verbindings vanaf sommige mense in die Zone." Die Zone is die naam vir een van die woongebiede op Wolwedans.
Volgens Botha het die inwoners om ongeveer 17:00 oproerig geraak teenoor die Zone se mense. Bande is op die padoppervlakte gebrand en volgens inligting is 'n polisievoertuig met klippe bestook. 'n Inwoner, Alicia Heyns beweer haar voertuig is ook tydens die voorval met klippe gegooi.
Die polisie se Openbare Orde-eenheid is na die toneel ontbied waarna die situasie ontlont is. Die polisie het teen die ter perse gaan steeds 'n teenwoordigheid op die toneel gehandhaaf.
Niemand is tydens die voorval in hegtenis geneem nie.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'