GROOT BRAKRIVIER NUUS - Inwoners van Groot-Brakrivier se WhatsApp-groep genaamd, Grootbrak dorp praatsaam, het onlangs meer gedoen as om net saam te praat. Hulle het die daad by die woord gevoeg.
'n Inwoner van Wolwedans, Armand Marks het uit desperaatheid op die groep geskryf: "Ek weet nie of ek hier mag vra nie. Ons het 'n swart Labrador wat 'n huis kort. Ons heining het omgewaai. Sy is nou sewe maande oud. Ons kan nie toelaat dat sy uitglip nie, want sy sal dalk deur 'n kar raak gery word. Dit sal ons harte breek, so ons sal haar eerder na 'n ander huis laat gaan."
Ene Tracy Lee het onmiddellik gereageer en die groeplede gevra of almal iets kan bydra sodat die gesin se heining herstel kan word.
Inwoners het die volgende dag ingespring en die heining vir die gesin reggemaak.
Twee mans het 'n dag nadat Armand die boodskap op die groep geskryf het by sy huis opgedaag. "As gevolg van baie sterk winde op die koppie waar ons woon het ons heining omgewaai. Ons het nie die finansies gehad om dit te herstel nie. Bailey is 'n groot hond en ons het gevoel ons sal haar 'n onreg aandoen om haar in die huis toe te hou."
Armand sê hulle is dankbaar dat Bailey nou veilig in die erf kan bly. Hy sê inwoners se behulpsaamheid het hom totaal oorbluf. "Ek het nog nooit so iets beleef nie. Dit is wonderlik dat mense nog kan saam staan en ander kan help."
Jonray, Armand se seun en Bailey se grootste aanhanger is net so bly dat sy geliefde hond nou veilig by die gesin kan bly.
Jonray Marks, Bailey en Tanya Marks deel 'n oomblik op die gesin se grasperk.
Bailey is lief daarvoor om saam met haar eienaar in sy voertuig te ry.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'