MOSSELBAAI NUUS - Die knal van 'n gaskanon het nuwe intrekkers in Fraaiuitsig, Reebok, Riverside en Tergniet behoorlik op loop gejaag toe dit verlede week verskeie kere in die omgewing afgegaan het.
'n Gaskanon is egter een van die essensiële implemente op 'n plaas, veral waar gesaaides verbou word.
Die meeste inwoners in die genoemde areas is egter gewoond aan dié gereelde knal, aangesien boere in die omgewing dit reeds jarelank gebruik. Voëls bly nou maar lief vir 'n saadjie met die gevolg dat veral swerms duiwe net na planttyd op die saailande toesak.
Gaskanonne is nog steeds een van die doeltreffenste afweermiddels teen voëls en word ook op lughawens se aanloopbane ingespan. Een voël in die turbine-enjin van 'n vliegtuig kan miljoene rande se skade veroorsaak. Voëls kan ook groot skade aan vliegtuie se windskerms aanrig.
Boere se insetkoste om te plant is hoog en daarom moet hulle hul oeste ten alle koste beskerm. Die gaskanonne sal egter nog vir lang tye op plase wees en inwoners moet verlief met die gebruik daarvan neem.
Buiten hierdie twee kraanvoëls, is honderde duiwe besig om saadjies op te pik. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'