MOSSELBAAI NUUS - 'n Inwoner van Danabaai, Marina Beeforth het onlangs inwoners op sosiale media gewaarsku oor spinnekopbyte. Beeforth het op die blad, Danabaai Nuus op facebook geskryf dat sy onlangs in die hospitaal behandel is vir 'n vioolspinnekopbyt. Beeforth het die byt as pynlik beskryf.
Cathleen Janke het op Beeforth se inskrywing gereageer: "Ek is ook so vier maande terug deur een gebyt in Danabaai, tussen my tone. Was op twee antibiotika (sic) tegelyk en na twee weke moes ek weer twee kursusse antibiotika gelyk neem".
Die woordvoerder van die Life Bay View privaat hospitaal, Elzaan Moelich sê dokters in ongevalle behandel van tyd-tot-tyd spinnekopbyte. "Maar daar was nie onlangs iets noemenswaardig nie."
Vioolspinnekop
Volgens die webtuiste, is die viool- en ook die sakspinnekop se gif sitotoksies, dit wil sê dit val die weefsel van die pasiënt aan. Die byt van die twee spinnekoppe is gewoonlik nie pynlik nie.
Dit veroorsaak dat mense nie besef hulle is deur ’n spinnekop gebyt nie. Die vioolspinnekop is ’n nagloper en maak sy woonplek in donker plekke soos ’n laai se hoek of skoene wat min gebruik word.
Gewoonlik vorm ’n rooi area om die bytplek nadat iemand gebyt is. Sowat 12 tot 24 uur later vorm ’n blaas, en ná ’n paar dae ’n letsel wat soos ’n pitsweer lyk. Die eerste ding wat iemand moet doen nadat hy of sy deur ’n vioolspinnekop gebyt is, is om die bytplek en die vel rondom die bytplek met water en seep te was omdat ’n spinnekopbyt baie vinnig infeksie ontwikkel.
Besoek 'n dokter indien dit nie beter lyk nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'