MOSSELBAAI NUUS - 'n Huiseienaar van die Monte Christo landgoed het 'n saak by die Da Gamaskop-polisie aanhangig gemaak nadat twee van haar katte onlangs geskiet is.
Die een kat, Nina is op 27 Oktober geskiet. Nina is deur 'n plaaslike veearts behandel en het 'n operasie ondergaan maar is weens die voorval dood.
Die ander kat, Matewis is sedert Nina se dood deur die huiseienaars in hul huis gehou maar het op 16 November deur 'n oop venster geglip waarna hy ook geskiet is. Matewis het die voorval oorleef maar sy been het nog nie na die skietvoorval herstel nie.
"Hy kan nie op sy been trap nie en sleep sy been. Gelukkig leef hy nog," sê die inwoner.
Beide katte is vermoedelik met 'n windbuks geskiet. Volgens die huiseienaar is die katte na aanleiding van 'n veeartsverslag vermoedelik op 'n kort afstand geskiet. "Ons harte is baie seer want ons katte is deel van ons familie. Nina het altyd vir ons op die hoek gewag wanneer ons van die skool af terugkeer en dan het sy die laaste entjie huis toe saam in die kar gery."
Die huiseienaar sê hulle gesin woon reeds 10 jaar in Monte Christo. "Die kinders is nou bang om uit die huis uit te gaan en wil nie eens gaan kyk of die hond se waterbak vol is nie. 'n Mens weet nie wat in so 'n persoon se kop aangaan nie en wie is volgende wanneer daar nie 'n kat is om te skiet nie?"
Die voorval is by die huiseienaarsvereniging aangemeld.
Die Da Gamaskop-polisiestasie het bevestig dat 'n saak van kwaadwillige saakbeskadiging en die oortreding van wetgewing ondersoek word.
Niemand is teen die ter perse gaan al in hegtenis geneem nie. Die huiseienaarsvereniging het aan die Mossel Bay Advertiser gesê hulle betreur die voorval.
* Die huiseienaar verkies om anoniem te bly uit vrees vir viktimisasie.
Die wond is duidelik sigbaar nadat Nina geskiet is.
Nina is dood nadat sy vermoedelik met 'n windbuks geskiet is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'