MOSSELBAAI NUUS - 'n Bejaarde vrou (64) van Hartenbos wat gekonfyt is om haar banksake op die internet te doen, is in totaal R261 600 kwyt nadat kuberskelms haar bedrieg het.
Hierdie is een van etlike sake wat oor 'n tydperk by die Da Gamaskop-polisie aangemeld is waartydens slagoffers deur middel van een of ander vorm van aanlyntransaksie, verlies gely het.
Die vrou, wat verkies om anoniem te bly, het by navraag aan die Mossel Bay Advertiser verduidelik wat sy ervaar het.
Haar telefoon het Saterdagoggend, 5 Mei omtrent so 10:00 gelui. Die man wat haar geskakel het, het gesê hy is 'n ene Mike Williams van die bank se kredietkaartbedrogafdeling.
Hy het voorts gesê dat daar "Chinese" is wat geld uit die vrou se rekening onttrek en dat sy onmiddellik na haar rekenaar moet gaan en dit moet aanskakel sodat sy aanlyn gehelp kan word om dit reg te stel en die fondse terug te plaas.
"Ek het my oor 'n mik geskrik en dadelik reageer op die versoek," vertel die vrou. Sy het die man se instruksies gevolg wat hy telefonies aan haar gegee het. "Hy het gesien ek het TeamViewer op my rekenaar. Ek kon sien hoe die cursor vanself beweeg oor die skerm. My hele internetbankprofiel was oopgemaak."
Die man het haar versoek om drie keer op 'n bevestigingskakel te kliek.
Die vrou vertel dat haar rekenaarskerm in 'n stadium heeltemal swart geword het. Die man het haar deurgaans gevra om net te wag en die gesprek afgesluit deur te sê dat sy haar rekenaar moet aanlos. Hy het ook onderneem om haar terug te skakel.
"Die hele tyd wat ek by die landyn gesit het, was my selfoon nie by my nie. Toe ek die oproep met die bankamptenaar beëindig het en by my selfoon kom, toe sien ek bevestiging van die drie transaksies wat hy gedoen het."
Kundige se kommentaar
Die Mossel Bay Advertiser het professor Rossouw von Solms, emeritus professor en lid van die Sentrum vir Navorsing in Inligting en Kubersekerheid aan die Nelson Mandela Universiteit wat die afgelope weke bydraes lewer vir die brieweblad aangaande kuberveiligheid, gevra om kommentaar te lewer oor die voorval.
"Hoe gebeur so iets? Wel, hierdie is 'n voorbeeld van 'n baie bekende skelmstreek. Iemand bel jou en maak jou skrik of bang met een of ander storie. Hulle gee voor dat hulle van die bank, Microsoft of selfs van die SA Polisiediens is en dat hulle jou graag sal help. Hulle vra jou om aan te teken op jou rekenaar en dan om op iets te "kliek". So word sekere sagteware op jou rekenaar afgelaai en geïnstalleer.
"Hierdie sagteware kan gewoonlik, sekere persoonlike inligting (soos byvoorbeeld, jou gebruikers-ID en wagwoord na jou elektroniese bankdienste) lek na hierdie skelms of hulle neem totaal beheer oor van jou rekenaar met sagtewarestelsels wat bedoel is vir tegniese hulp oor 'n afstand.
"In die geval hierbo is TeamViewer, so 'n sagtewarestelsel, klaarblyklik gebruik. Die skelms was dus totaal in beheer van haar rekenaar. Sy het die nodige inligting, om op haar elektroniese bankdienste aan te teken, goedgunstelik, en totaal onwetend, per telefoon aan hulle verskaf."
'Moenie reageer nie'
"Moet nooit reageer op enige iemand wat hom/haarself voordoen as iemand van die bank, Microsoft of die polisiediens wat jou kwansuis wil help met jou rekenaar of aanlyn bankdienste nie. Hierdie is gesiglose kuberskelms. Sit onmiddelik die telefoon neer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'