MOSSELBAAI NUUS - Nadat haar reisplanne na Hong Kong en Engeland vanweë die Covid-19-pandemie in die wiele gery is, moes Marie Bredenkamp van Groot-Brakrivier maar met Jan Tuisbly se karretjie ry.
Maar dit het haar op die spoor van 'n nuwe avontuur gesit, wat meer as 'n 100 mense wêreldwyd tot 'n aanlyn-bak-en-brouery sou aanspoor.
Na baie jare in die onderwys, veral tersiêre opleiding, het Marie (78) haar in die juwelebedryf begeef. Sy het baie gereis oor die jare heen en was juis op pad om vir moontlik 'n laaste keer 'n bietjie Suidsee-pêrels te koop toe die koronavirus haar planne in die wiele ry. Hierna sou sy haar dogter in Engeland besoek.
Tydens 'n gesprek met haar dogter oor die huidige toedrag van sake waarvolgens groot dele van die wêreld saam in inperking is, het sy op haar facebookblad die uitdaging geplaas om deel te neem aan 'n vetkoekbakuitdaging. "Ek en my dogter het gesels oor die film Around the World in 80 Days en sy sê toe hoekom nie Around the World in 80 Minutes nie." Marie plaas toe 'n vetkoekresep wat ongeveer 80 minute neem om voor te berei op haar facebookblad. Meer as a 100 deelnemers vanuit Engeland, Australië, Namibië, asook afgeleë dorpies soos Vanwyksvlei, het hulle resultate op facebook gedeel.
"Dis eintlik ironies dat ons, terwyl ons nie in groot groepe byeen mag wees nie, virtueel as soveel mense kon saamkuier." Die "byeenkomstyd", verduidelik sy, is op 'n Donderdag. Verlede week is die verlenging van die inperkingstyd wat op Donderdag, 16 April ten einde sou loop, in 'n positiewe gees met 'n karringmelkpoeding gevier. "'n Resep wat sedert my kinderdae kom, het ek vir die eerste keer in my lewe met ander gedeel."
Marie sê dat daar tot versoek was om potjiekos saam aanlyn te kook, maar sy reken 'n vertroude macaroni en kaas-resep is dalk die aangewese ding. "Daar kom nou nog mense by wat wil deelneem."
Marie sê sy benut die inperkingstydperk ten volle. Sy skryf graag en sal nog gepubliseer wil word, maar kort-kort, meen sy, verg iets anders haar aandag.
Sy vertel dat hierdie, met die koronaviruspandemie wat 'n skaduwee oor die wêreld goor, vir haar baie betekenisvol is. "My ouma, wie se name ek het, is in 1918 op 39-jarige ouderdom aan die Spaanse Griep dood. Destyds was daardie ouderdom se mense die kwesbare groep gewees. Dis iets waaroor ons familie altyd nog gepraat het. Dit is nogal vir my ironies dat ons nou hierdie virus beleef, en dat ek as haar naamgenoot in die kwesbare groep is."
Dit het begin by 'n vetkoekbakuitdaging wat sy beslag in Groot-Brakrivier gekry het. Nou bak en brou meer as 100 mense wêreldwyd aanlyn, danksy Marie Bredenkamp
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'