MOSSELBAAI NUUS - "Hoe kan geregverdig word dat die armste van arm mense, selfs huishoudings waar mense aan HIV/Vigs ly, se water vir maande aaneen op drup geplaas word?
Wie sien toe dat dienste tot normaal herstel word wanneer inwoners met agterstallige skulde die verskuldigde bedrag betaal? Wie maak seker dat arm mense wel om deernisverligting of die beskikbare subsidies aansoek gedoen het alvorens hul water op 'n drupstelsel geplaas word?"
Hierdie en ander indringende vrae deur die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, tydens 'n vergadering van die uitvoerende burgemeesterskomitee op Dinsdag, 18 Julie, oor die die maatskappy wat namens die munisipaliteit skuldinvorderings doen se werkswyse het gelei tot 'n dringende vergadering met die bestuur van die skuldinvorderingsmaatskappy die afgelope week om bevredigende antwoorde op die kwelpunte te kry.
Die burgemeester het hom skerp uitgespreek oor die wyse waarop personeel van die skuldinvorderingsmaatskappy inwoners hanteer en dus die beeld van die munisipaliteit skaad.
"Ek word gevra om 'n besluit te neem oor 'n diensverskaffer asof hul personeel se gedrag vlekkeloos is. U (die administrasiepersoneel) kan my nie verseker dat daar nie 'n herhaling van die wanpraktyke sal wees nie, want u weet nie van die vergrype nie. Watter maatreëls sal verdere onaanvaarbare gedrag verhoed?"
Die burgemeesterskomitee het die finansiële komitee se verslag oorweeg waarin aanbeveel word dat die raad by die volgende raadsvergadering op Donderdag, 27 Julie, die huidige diensverskaffer wat skuldinvordering doen se dienskontrak met 'n jaar moet verleng.
Daar is ook gevra dat die raad oorweging moet gee om die kontrak daarna met 'n verdere jaar aan te pas.
Diensrekord
Die burgemeesterskomitee is daarop gewys dat die betrokke diensverskaffer 'n gevestigde maatskappy is met stelsels wat reeds met die munisipale stelsels geïntegreer is. Die maatskappy het voorts by verre die beste gevaar in die bod-evaluasieproses vergeleke die sewe ander maatskappye wat vir die kontrak getender het.
Die skuldinvorderingsmaatskappy se diensrekord is voorgehou as die rede waarom die munisipaliteit met 'n betalingskoers van bykans 99% spog. Die administratiewe personeel het daarenteen volgehou dat die skuldinvorderaar baie goeie werk doen, gewoon raadsbeleide toepas en dat die munisipaliteit self oorwegend positiewe terugvoer ontvang.
Heftige reaksie
Burgemeester Levendal het hom heftig uitgespreek en daarop gewys dat die wyse waarop die huidige diensverskaffer se personeel arm mense behandel, onaanvaarbaar is en vir jare reeds 'n wig tussen die gemeenskap en die munisipaliteit indryf.
"Dié maatskappy se personeel het oor jare ons mense onaanvaarbaar behandel. Die maatskappy beskik waarskynlik nie oor die munisipale beleid nie, of pas dit eenvoudig nie eenvormig toe nie."
Raadslid Venolea Fortuin het gesê dat veral ouer mense nie noodwendig begrip het vir die terminologie wat die skuldinvorderaar se personeel gebruik nie, en dus nie die volle implikasie begryp van wat aan hulle oorgedra word nie. Sy het na lewensomstandighede in onder meer Sonskynvallei verwys en gesê mense kan nie toegelaat word om in haglike toestande te leef met noodsaaklike dienste wat hulle ontneem word nie.
Ook raadslid Cliffie Bayman het gesê die administratiewe heffing wat mense wie se munisipale diensterekenings agterstallig is, moet betaal, maak hul skuldlas nóg groter en maak dit bykans onmoontlik om kop bo water te hou.
Daar is voorts gevra wat die munisipaliteit in ruil kry vir die verlenging van die maatskappy se kontrak?
Burgemeester Levendal het op die raad se onderskeie beleide gewys en gesê die dae dat 'n persoon se deernisstatus deur die toestand van sy woning bepaal word, is verby. Hy het gesê deernissubsidies en die beleid vir armoedeverligting geld ongeag waar mense woon en word slegs deur bewys van inkomste bepaal. Hy het gemaan dat geen personeel nie verkeerde interpretasies van beleid mag toepas nie.
Raadsheer Harry Levendal.
"Kom ons wees eerlik, word dienste herstel met dieselfde ywer as waarmee dit ontneem word?"
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, het gevra dat die skuldinvorderaar se personeel se onaanvaarbare gedrag op 'n individuele basis hanteer moet word. Hy het gevra dat 'n dringende vergadering belê word sodat met die skuldinvorderingsmaatskappy oor diensvlakke en -voorwaardes ooreengekom kan word.
"Ek soek antwoorde," het die burgemeester volgehou.
ARTIKEL & FOTO: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'