MOSSELBAAI NUUS - Munisipale verkeersbeamptes het na afloop van 'n onlangse voorval bewys dat hulle nie omkoopbaar is nie en is vir hulle optrede geloof.
Die beamptes het onverskrokke opgetree, nie net teenoor 'n ongelisensieerde bestuurder en onpadwaardige voertuig nie, maar ook teen 'n skynbare poging om die verkeersbeampte om te koop om ter wille van 'n fooitjie anderpad te kyk.
Op Saterdag, 15 Januarie het verkeersbeamptes voertuie by Suiderkruis voorgekeer en vir padwaardigheid nagegaan.
Die bestuurder van 'n voertuig wat voorgekeer is, het sonder 'n lisensie gery en die voertuig het boonop drie onpadwaardige bande gehad.
Toe die verkeersbeampte die motorbestuurder inlig dat daar teen hom opgetree gaan word, het hy blykbaar probeer om die beampte met R100 om te koop om nie 'n boete uit te reik nie.
Die verkeersbeampte, Eucine Koester het gevolglik die motorbestuurder ook daarvan aangekla dat hy 'n gemagtigde vredesbeampte probeer oorreed het om in stryd met sy plig op te tree.
Raadsheer Cliffie Bayman, uitvoerende onderburgemeester het die verkeerspersoneel vir hul voortreflike optrede bedank en het gesê dat hul optrede van die trots waarmee hulle hul taak benader en onverskrokke dienslewering spreek.
Mosselbaai-munisipaliteit se uitvoerende onderburgemeester, raadsheer Cliffie Bayman, die portefeuljevoorsitter vir infrastruktuurdienste, raadslid Anton Dellemijn, en die portefeuljevoorsitter van gemeenskapsveiligheid, raadslid Leon van Dyk het Maandagoggend, 17 Januarie die assistenthoof van wetstoepassing, supt Antoinette Snyders en verkeersbeamptes Lordney Scheepers, Maryke Zeeman, Sibongile Mandila, Eucine Koester en Collin Matyila vir hul onverskrokke eerlikheid en harde werk geloof. Afwesig: Uriel Graaff en Andries Swanepoel.
Die portefeulje-voorsitter van gemeenskaps-veiligheid, raadslid Leon van Dyk het die personeel vir hul eerlikheid, toewyding en harde werk, ook tydens die afgelope seisoen bedank en van sy voortgesette ondersteuning verseker.
Die assistenthoof van wetstoepassing, supt Antoinette Snyders het die betrokke skof vir hul diensingesteldheid, bereidwilligheid om sonder om te skroom ook die tweede myl vir die munisipaliteit te loop, en toegewydheid bedank.
Die portefeuljevoorsitter vir korporatiewe dienste, raadslid Nickey le Roux het gewys op die positiewe impak van die beampte se onverskrokkenheid.
"Mosselbaai-munisipaliteit werk hard en streef voortdurend om die reputasie as die beste munisipaliteit in die land gestand te doen. Hierdie optrede wat wys dat korrupsie nie geduld sal word nie, getuig van die skoon regering en hoë standaarde wat die munisipaliteit op alle vlakke nastreef."
Verkeersbeampte Eucine Koester is vir sy onverskrokke eerlikheid geloof nadat hy geweier het om omgekoop te word en ‘n motorbestuurder daarvan aangekla het dat hy 'n gemagtigde vredesbeampte probeer oorreed het om in stryd met sy plig op te tree.
Ook die portefeuljevoorsitter vir infrastruktuurdienste, raadslid Anton Dellemijn het die personeel vir hul onverskrokke eerbaarheid geloof.
Verkeersbeampte Eucine Koester is vir sy onverskrokke eerlikheid geloof nadat hy geweier het om omgekoop te word en 'n motorbestuurder daarvan aangekla het dat hy 'n gemagtigde vredesbeampte probeer oorreed het om in stryd met sy plig op te tree.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'