MOSSELBAAI NUUS - Raadslid Dawid Kamfer, Wes-Kaapse leier van Icosa en Mosselbaai raadslid het die afgelope week in opvolg op die Souwesiastrand-kwessie 'n dringende brief aan die munisipale bestuurder gerig om te verduidelik waarom daar nog niks van die kontraktuele voorwaardes met die kontrakteur gekom het dat die De Bakke/Santos-oord opgegradeer moet word.
"Die kontrakspesifikasies het vereis dat die suksesvolle tenderaar die oorde tot driestergradering moet verbeter. Icosa gaan in sy hofaansoek oor Souwesiastrand die De Bakke/Santos-oord se tenderbesluit insluit. Dit is nodig om duidelikheid te kry ook oor die De Bakke-sage. Icosa soek antwoorde hieroor aangesien hierdie oorde 'n paar jaar gelede ook op 'n 30 jaar termyn verhuur is, soos wat nou mt Souwesiastrand voorgestel word.
"Tot nog toe het niks by De Bakke/Santos verander sedert die tender toegeken is aan die Kaapstadse maatskappy nie."
Raadslid Kamfer sê dit wil voorkom asof die raad met 'n meerderheidstem 'n verskuilde agenda het om grond uit die inwoners se hande te laat gaan "om bevoorregte en ryk mense te bevoordeel".
Boonop, vra raadslid Kamfer waarom die munisipaliteit destyds nie die tender toegeken het aan 'n mastskappy wat etlike miljoene Rand meer getender het nie.
"Oor hierdie kwessie sal Icosa die openbare beskermer vir 'n dringende ondersoek vra, veral omdat daar geen openbare deelname was en die gemeenskap nie geken is in hulle voorneme om De Bakke vir 'n 30 jaar termyn te verhuur nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'