MOSSELBAAI NUUS - Raadslid Dawid Kamfer (Icosa) het Woensdag tydens die komiteevergaderings heftig reageer teen die nuwe tariewe wat vir begrafnisse geld.
Hy is egter 'n spreekbeurt geweier omdat die item nie op die agenda was nie.
In 'n persverklaring het raadslid Kamfer aangedui dat Icosa reeds 'n dringende mosie ingedien het vir die raad om die prys van veral grafte te heroorweeg.
"Swartsakke en 'n oop bakkie, soos die oumense gesê het, só lyk dit sal begrafnisse in die toekoms in Mosselbaai daar uitsien nadat die DA- beheerde raad 'n besluit geneem het dat die prys van grafte waarin mense begrawe word met sowat 600% verhoog is. Die verhoging vanaf R1 940 tot R6 400 het die begrafnisondernemers en gemeenskap die herrie in. Sommige ondernemers vra hoe kry die munisipaliteit dit reg om so 'n verhoging te hef op 'n graf waarin ons, ons geliefdes wil te ruste lê. Dan, boonop, moet die graf se grawe-koste en die permit vir die oprigting van die grafsteen nog bygewerk word.
Raadslid Kamfer is stilgemaak deur die DA se komiteevoorsitter, raadslid Niklaas Booisen, toe Kamfer die kwessie wou aanspreek. Kamfer het egter luidkeels gevra: "So die besluit wat julle geneem het, is om mense minderwaardig te laat begrawe, julle dink duidelik niks van die gemeenskap nie. Dan is swartsakke seker ons voorland." "As raadslid vra ek die Mosselbaai raad om aan die die gemeenskap en begrafnisondernemers te verduidelik hoe 'n persoon begrawe kan word wat oor 'n begrafnispolis van R10 000 beskik as die graf alleen R6 400 kos? Daar gaan nie geld wees vir 'n kis nie."
Raadslid Kamfer sê talle gemeenskapsvergaderings sal gehou word om die kwessie te bespreek.
Die tariewe hier ter sprake is nie op hulpbehoewendes van toepassing nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'