MOSSELBAAI NUUS - Ben Tamsen was in die jare sestig een van Suid-Afrika se beste en mees veelsydige gimnaste. Hy en vroulief, Yvonne woon op Rheebok. Wat 'n stil verjaarsdag sonder familie of vriende moes wees, is omskep in 'n heerlike 80ste verjaarsdag, nadat Ben se bure ingegryp het en besluit het om die dag vir hom spesiaal te maak.
Elkeen het sy eie stoel, iets te drinke en te ete gebring en boonop was daar 'n gedekte tafel met gemmerbier. Die bure het hul sosiale afstand gehou en hulself op die grasperk tuisgemaak terwyl Ben en Yvonne op hulle stoep gesit het.
'n Buurman se dogter het vanaf 'n buurhuis se balkon vir Ben 'n verjaarsdaglied op haar dwarsfluit gespeel.
Die bure het die volgende van Ben tydens die geselligheid kwytgeraak.
"Hy het die Suid-Afrikaanse vlag gedra tydens die wêreldspele. Sy grootste teleurstelling was toe die gimnastiekspan reeds klaar gekies was vir die Olimpiese Spele in die sestigs en deelname van Suid-Afrikaners geweier is."
Die hoogtepunt van die dag was glo toe Ben sy Springbokbaadjie vir die bure stoep toe gebring het.
Ben se bure sê: "Ons inwoners in Wildevystraat wil net dankie sê vir Ben en dat ons sy verjaarsdag saam op die grasperk kon vier."
Ben Tamsen het weer sy Springbokbaadjie wat hy in gimnastiek verwerf het, vir sy bure aangetrek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'