MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai munisipale raad het tydens die raadsvergadering op 31 Mei 'n dringende mosie deur die portefeuljevoorsitter vir finansies, raadslid Marie de Klerk aanvaar om finansiële bystand te bied aan belastingbetalers wat onlangs bogemiddeld hoë munisipale rekeninge vir water- en elektrisiteitverbruik ontvang het.
Die hoë heffings is gebaseer op die werklike watermeterlesings wat onlangs geneem is en wat nou daartoe lei dat die laer geskatte lesings van die afgelope paar maande reggestel word. Dié herberekenings veroorsaak dat verbruikers nou rekeninge ontvang vir werklike water- en elektrisiteitsverbruik, terugwerkend tot en met November/Desember 2017.
Mosselbaai-munisipaliteit wil die gemeenskap verseker dat die raad en administrasie werklik pogings aanwend om die kwessie so gou moontlik aan te spreek en regstellings te maak, indien en waar nodig.
Verligting
Om die finansiële las te help verlig, het die raad Donderdag, 31 Mei goedgekeur:
- Dat spesiale reëlings vir afbetaling getref mag word op rekeninge en dat dit afbetaal mag word oor dieselfde tydperk wat skattings gedoen was;
- Geen regsaksie geneem sal word as die verbruiker reëlings getref het vir afbetaling nie;
- Daar geen ekstra heffings sal wees op agterstallige skuld met voorafbetaalde kragaankope vir die tydperk soos ooreengekom nie; en
- Geen rente gehef sal word op die betrokke rekeninge oor 'n tydperk soos ooreengekom nie.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het die dienste van 'n afgetrede hoof finansiële beampte, mnr Kobus van Niekerk bekom om die klagtes oor die waterverbruikmonitering te bestuur. Die stap het gevolg ná probleme ondervind is nadat die waterverbruikmonitering uitgekontrakteer is aan Ikapa Reticulation and Flow.
Dié maatskappy is verantwoordelik vir die bestuur en programmatuur vir die lees van water- en elektrisiteitsmeters.
Lesingskedule
Terselfdertyd het die munisipaliteit 'n nuwe lesingskedule geïmplementeer, waardeur gepoog word om die munisipale lesingskedule nader aan die heffingsdatums te bring om verbruikers in staat te stel om beter kontrole oor verbruike te kan uitoefen deur vroeër bewus te word van hoë verbruik.
Die aanstelling van Kobus van Niekerk is juis om te verseker dat die kontrakteur daagliks gemoniteer en bestuur word. Die munisipaliteit is gevolglik van dag tot dag presies seker hoeveel meterlesers aan diens is, watter meters gelees is, en waar, indien enige, probleme opgeduik het.
Mosselbaai-munisipaliteit probeer om so spoedig moontlik weer 'n lesingspersentasie van bo 95% te haal en te handhaaf sodat skattings tot 'n minimum beperk word.
"Verbruikers kan ook self hul lesing inbel om te verseker dat daar nie 'n skatting op die rekening gedoen word nie," sê die munisipale woordvoerder, mnr Puren.
Navrae
Diegene wat navrae het oor die akkuraatheid van hul rekeninge en lesings, asook om reëlings te tref vir afbetalings, word versoek om die munisipale kantore in Marshstraat 101, Mosselbaai te besoek vir moontlike aanpassings, regstellings en/of om reëlings vir afbetaling te tref.
Mosselbaai-munisipaliteit werk aan 'n volhoubare plan om die probleme wat die afgelope paar maande met lesings ondervind word, uit te stryk. Nadat die watermeterlesingskontrakteur, Ikapa, sedert April op terme geplaas is weens swak prestasie, is baie van die probleme reeds uitgestryk en word die kontrakteur se werkwyse deurlopend gemonitor om hoë gehalte diens en akkuraatheid te verseker.
Mosselbaai-munisipaliteit vra verskoning vir enige ongerief wat hierdeur veroorsaak word.
Vir meer inligting, kontak die Mosselbaai-munisipaliteit se kantore by 044 606 5000 of stuur 'n epos na admin@mosselbay.gov.za.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'