Update
MOSSELBAAI NUUS - Imelda Groenewald, ma van die twee mans wat op 29 Maart helder oordag op Mosselbaai deur 'n groep jeugdiges met kapmesse aangeval is, koester geen wrok nie.
Haar seun, Rich-Leigh (27), ook bekend as Ricky, is kort na die aanval in die Mosselbaai provinsiale hospitaal oorlede.
Sy broer, Enrico (37) het hom tydens die aanval in Uitbreiding 13, op die hoek van John Brown- en Marlinstrate probeer help en het ernstige wonde aan beide sy arms opgedoen. Enrico het die voorval oorleef en is intussen uit die hospitaal ontslaan.
Die jeugdiges is volgens inligting van die JCC-woongebied afkomstig en die vermoede bestaan dat van hulle nog skoolgaande is. Teen die ter perse gaan is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
"Ek is niemand se regter nie. Die gereg moet sy gang gaan. Ek het geen wraak gevoelens teenoor die kinders wat dit gedoen het nie. Dit is my begeerte dat hulle hul weë sal verander want die pad wat hulle nou loop, loop ook na die dood," het 'n hartseer Imelda aan die Advertiser gesê.
Imelda het op die betrokke dag pas van die winkel afgekom toe sy 'n klomp mense in die straat sien saamdrom. "Dit is toe wat ek sien Enrico en Ricky lê daar."
Imelda het nog twee seuns, Michael (33) en Enslin (39). Sy sê hoewel haar kinders nie "engeltjies" is nie, het hulle altyd ander gehelp waar hulle kon.
Ricky se vyfjarige seun, Matthew Brown woon nou by Imelda. "Vandat sy pa dood is, sê hy ek huil elke keer wanneer ek met hom praat."
Sy sê daar is gereeld sulke voorvalle in Uitbreiding 13 en inwoners word daagliks deur misdadigers in die straat geteister. "Mense word aanmekaar geroof. As jy in die pad loop val hulle jou aan. Ek dink Ricky was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek."
'n Roudiens is Woensdag, 7 April om 08:30 by die Seesigwoonstelle in Uitbreiding 13 vir Ricky gehou. Die kerkdiens vind op Saterdag, 10 April om 09:30 by die Lighthouse Assembly of God plaas.
Enige persoon met inligting oor die voorval word versoek om kapt Jannie Pio (079 893 9934) te kontak.
Die gemeenskap het op 3 April ‘n kranslegging gedoen op die hoek van John Brown- en Marlinstrate in Uitbreiding 13 waar twee broers deur 'n groep jeugdiges aangeval is.
Richard Groenewald, pa van Ricky.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'