MOSSELBAAI NUUS - Met die talentsoektog, Mossel Bay's Got Talent weer in volle swang, is die kollig weer eens op plaaslike talent. Oor die jare wat dié soektog aan die gang is, het dit 'n paar juwele opgelewer waarvan sommige ook al genoeg ondervinding opgedoen het om op die beoordelaarspaneel te dien. Hiervan is Alicia van Wyk 'n sprekende voorbeeld.
Alicia, wat amper haar sangtalent onder die maatemmer versteek het deur eerder dans as haar voorkeur te kies, is een van vanjaar se beoordelaars.
'n Ster gebore
Hoewel sy gebore is in Knysna, het sy in Mosselbaai grootgeword.
Lief vir sing van kleins af, het sy toe Patricia Lewis, destyds van die Supersterre-faam, haar alma mater Hoërskool Sao Bras besoek, verkies om eerder as danseres op te tree. Tóé reeds, het haar mentor, Lenise Hendricks, ook bekend as "Mamma Idols", haar Alicia se sangtalent ontdek en haar "forseer" om een sangitem te lewer. Alicia het glo maar huiwerig en halfhartig meegedoen.
Met Alicia se destydse deelname aan Mossel Bay's Got Talent, waar sy nie as een van die wenners aangewys is nie, het haar reis om haar talent te ontwikkel onder "Mamma Idols" se bekwame leiding momentum begin kry.
Alicia wen op 'n jong ouderdom gemaklik haar eerste Sizanani-sangkompetisie met 'n prysgeld van R6 000. Geleenthede om by funksies op te tree het haar selfvertroue ontwikkel. Sy wen later die Garden Route Casino se plaaslike Idols-kompetisie waarvan die prys 'n opname by 'n gesogte platemaatskappy ingesluit het. In 2016 dring sy deur na die top 30 van SA Idols wat sy as een van die hoogtepunte in haar sangloopbaan beskou.
Sedertdien tree sy gereeld saam met verskeie orkeste op. Haar bekendheid brei uit tydens kompetisies waartydens sy as beste sangeres aangewys is, terwyl sy opgetree het saam met orkeste wat ook vir hulle werk bekroon is.
Drome word waar
Alicia se droom word eersdaags bewaarheid wanneer sy haar eerste solo-vertoning Night with the Diva hou. Haar hoofdoel hiermee is om jongmense te motiveer om nooit hul omstandighede as verskoning te gebruik om te verhoed dat hul drome bewaarheid word nie.
"My doel is om vir al die jongmense daar buite te sê dat dit nooit te laat is om 'n sukses van jou lewe te maak nie. Jy is verantwordelik vir jou eie toekoms," sê Alicia.
Alicia se vertoning is op 4 Mei in die Bravo Lounge. Kaartjies is beskikbaar by Alicia (060 764 5736 of 076 073 2995).
Oudisies
Die volgende oudisies vir Mossel Bay's Got Talent vind plaas op 5 April in die D'Almeida-gemeenskapsaal. Registrasie begin om 16:00 en oudisies om 18:00.
Deelnemers uit Gaatjie, D'Almeida, die JCC-woongebied en Uitbreiding 8 word genooi om hulle talent te kom ten toon stel. Daar word meegeding in drie kategorieë, naamlik sang, dans en die ope kategorie (kletsrym of rap, instrumentele musiek, toneelspel en dies meer). Vir meer inligting, kontak die Mosselbaai-munisipaliteit se jeugkantoor (044 606 5224) of stuur e-pos na yvanaswegen@mosselbay.gov.za.
Sy het dans verkies, maar dansky haar mentor letterlik haar eie stem ontdek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'