TUINROETE NUUS - Die Groot-Brakrivier-polisie ondersoek 'n paar sake van bedrog teen 'n klein konstruksiemaatskappy van George wat na bewering huiseienaars in die Groot Brak en Klein Brak omgewing met honderde duisende rande ingeloop het.
Volgens een van die huiseienaars wat meer as R130 000 verloor het, vra die bouer 'n groot deposito waarmee die argitek betaal moet word vir bouplanne en vir materiaal wat aangekoop moet word.
Dié konstruksiemaatskappy se kwotasie vir die werk is ook aansienlik goedkoper as ander bouers s'n.
Nadat die deposito betaal is, begin die bouspan vlytig werk, maar na 'n paar dae word daar vir nog geld gevra.
Later daag die werkers nie meer op nie en verskeie verskonings word aangebied. Die eienaar van die konstruksiemaatskappy beantwoord later ook nie meer whatsappboodskappe of eposse nie en die huiseienaar sit met 'n onvoltooide bouprojek en 'n leë beursie.
Volgens ao Owen Nel wat van die sake ondersoek, merk hy dat daar nie 'n sperdatum in die kontrakte opgeteken word om aan te dui wanneer die projek afgehandel moet wees nie. In bogenoemde geval het die konstruksie-eienaar mondelings gesê die projek sou binne 10 dae afgehandel wees.
Dit is nou twee en 'n halwe maande later en die projek is steeds onvoltooid.
Indien lede van die publiek oor inligting beskik wat die Groot Brak-polisie in hul ondersoek kan help, kontak ao Nel by 079 894 1896.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'