Update
MOSSELBAAI NUUS - Die polisie waarsku inwoners om nie vals nuus te versprei nie. Dit volg nadat die liggaam van die 55-jarige Glynis Burisch op Saterdag, 1 April, by 'n woning in 16de Laan ontdek is nadat 'n brand in die huis se vermaaklikheidsarea ontstaan het.
Polisiewoordvoerder, ao Pieter Koekemoer, sê die polisie is bewus van skinderstories wat sedert die voorval die ronde doen.
"Ons versoek inwoners om nie oor die voorval te bespiegel nie," het hy gemaan.
Koekemoer sê hulle wag nog op die uitslag van die geregtelike nadoodse ondersoek. 'n Dossier in dié verband is deur die Mosselbaai-polisie geopen. Forensiese deskundiges het ook die toneel besoek.
Volgens Koekemoer sal die verslae van die deskundiges se ondersoek teen Mei voltooi wees.
'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die brand om ongeveer 17:00 ontstaan het. Nadat die brand geblus is, is Glynis se liggaam ontdek. "Haar ma was ten tye van die voorval in 'n ander vertrek in die woning en haar dogter was in 'n woonstel wat grens aan die huis."
Die oorsaak van Burisch se dood is nog nie bekend nie.
Vorige artikel: Liggaam ontdek ná huis afbrand
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’