Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Pasiënte en besoekers aan die Life Bay View-hospitaal op Mosselbaai het op Vrydag, 28 September - Wêreld Hartdag - behoorlik rooi gesien; nie net die personeel nie, maar selfs die gebou was mooi in rooi getooi.
Die vooraansig van die hospitaal, wat met die enigste kardiologie-eenheid in die Suid-Kaap spog, was vir sowat twee uur vanaf 19:00 in rooi belig. ‘n Hartjie op hierdie rooi muur het verder die klem gelê op die vieringe van Wêreld Hartdag.
In die Wes-Kaap het die Life Healthcare groep ook die oë laat rek deur nie net die groot ferriswiel nie, maar die ganse aangesig van Tafelberg in rooi te belig.
Plaaslik het die hospitaalgroep deur die loop van die dag besoekers oor nie net 'n gesonde leefstyl en goeie eetgewoontes voorgelig nie, maar gratis bloeddruktoets is in die ontvangsarea gedoen om verdere bewusmaking te skep.
Life Bay View-hospitaalwoordvoerder Elzaan Moelich sê die hospitaal verwelkom op 1 Oktober 'n nuwe kardioloog wanneer dr HW Snyman by die span spesialispraktisyns, aansluit.
Ter viering van Wêreld Hartdag het personeel baie mooi in hul rooi klere vertoon.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'