Hondjie weer veilig tuis na motorongeluk

Ody

Video

ALBERTINIA NUUS - ‘n Cocker spaniël en ‘n worshond wat saam in ‘n motorbotsing op Sondag, 30 Julie op die N2 duskant Albertinia was, het op Maandag, 14 Augustus vir die eerste keer sedert dié traumatiese insident, weer ontmoet.

Dit volg nadat die worshond, Ody, wat saam met 'n oud-inwoner van Mosselbaai, Ruan van Papendorp (33) in 'n Toyota Hilux-bakkie was toe die bakkie verskeie kere gerol het, vir bykans twee weke vermis was. Van Papendorp en 'n 10-jarige seun, Jean-Pierre (JP) van der Westhuizen is beide in die botsing dood.

Volgens die polisiewoordvoerder vir die Suid-Kaap, kapt Malcolm Pojie het Ruan, sy vriendin Madele Oosthuizen, haar seun JP en hul drie honde, twee cocker spaniëls, Molly en Max en 'n worshond, Ody, om 17:00 in die rigting van hul woning in Heidelberg gery toe Ruan se Toyota Hilux-bakkie met 'n grys Ford Fiesta gebots het. Paramedici het Molly na Dana Bay Vets geneem, Max is op die toneel dood aangetref, maar Ody was vermis.

Tydens ‘n besoek aan die ongelukstoneel het familie van Van Papendorp op Ody in die veld afgekom.

Op Maandag. 14 Augustus het Ody vir Molly by Dana Bay Vets, waar sy nog aansterk, gaan kuier. Die twee honde was vreeslik bly om mekaar te sien. "Dit gaan baie goed met Ody. Hy bly by my ouers op Vleesbaai en is weer sy ouself," sê Van Papendorp se suster, Tersia.

Kyk 'n video hieronder.

'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'


Your comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Mossel Bay Advertiser