Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie, sersante Caroline Keet en Richard Ramova het op Maandag, 6 Mei omstreeks 04:00 'n klagte in Menkenkop bygewoon waar twee honde vermoedelik vergiftig is.
'n Man en sy vrou wat in Barendstraat woon, het die polisie gekontak nadat hulle hul twee honde, 'n boerboel en Jack Russell-terriër dood op die gras buite die huis aangetref het.
"Ek het die Jack Russell ongeveer half vier hoor blaf en toe ek gaan kyk gesien die hond het skuim wat uit die bek uitkom," het die man aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Hy het ook gesê dat hulle sedert die voorval twee kwikstertjies dood in hulle erf opgetel het. Daar word vermoed dat die honde tussen 03:00 en 04:00 die oggend vergiftig is, vermoedelik deur voornemende inbrekers.
Die honde is vroegoggend deur lede van die DBV van die perseel verwyder. Die inwoners van die huis het bykans twee jaar gelede uit Worcester verhuis. "Ek sal nou meer moet doen om my perseel te beveilig na dié gebeure," het die eienaar van die honde aan die Advertiser gesê.
Lede van die plaaslike DBV het die honde se oorskot van die perseel verwyder. "Ons het die honde se eienaar gekontak en gevra of ons die oorskot kan verwyder. Dit is nie 'n diens wat ons as 'n reël aan die publiek verskaf nie, maar ons was in daardie stadium binne 'n posisie dat ons wel die eienaars kon bystaan. Die eienaar het die honde se halsbande afgehaal. Hy wou dit graag hou."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'