Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Mossel Bay Advertiser het sowat twee weke gelede 'n lesersbrief van 'n inwoner van Groot Brak ontvang.
Zettie Opperman se Jack Russell, Spikkels, is tydens 'n uitstappie op die duine tussen Groot-Brakrivier en De Vette Mossel deur 'n Rottweiler gebyt.
Met die plaas van die berig het Opperman 'n versoek aan die eienaar van die Rottweiler gerig om te help met die veearts-rekening.
Opperman se dogter, Kris-Mari, het verlede week laat weet dat die eienaar nog nie na vore gekom het nie en dat haar ma moedeloos was. Spikkels moes intussen nóg 'n operasie ondergaan en die rekening het toe reeds by R6 000 verbygetrek. En dit was ná afslag by die veearts.
Eben Marais, die eienaar van die Rottweilers het intussen van Opperman se pleidooi gehoor en gereël om haar en die Jack Russell te ontmoet en die geld vir die veearts se rekening oor te betaal. Marais sê hy is baie lief vir sy honde-kinders en dat hulle orals saam met hom gaan. Hy is onseker oor hoekom die Rottweiler die Jack Russell beetgekry het, maar dink dit is dalk omdat beide tewe is.
"Ek het drie Rottweilers en twee Jack Russells en kom van 'n plaas in die Vrystaat waar my honde 'n belangrike rol speel om ons veilig te hou. Ek hoop Spikkels sal heeltemal herstel ná die operasie."
VIDEO - Zettie Opperman en Eben Marais vertel
Eben Marais en Zettie Opperman kyk na die state van die veearts-rekening wat betaal moes word vir Spikkels se mediese koste nadat sy deur 'n Rottweiler gebyt is.
Zettie Opperman en Eben Marais bekyk die skade wat Spikkels tydens die aanval opgedoen het. BO: Spikkels sit gretig en wag vir 'n eetdingetjie nadat sy twee weke gelede deur 'n groter hond aangeval en 'n paar operasies moes ondergaan om die wonde te heg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’