MOSSELBAAI NUUS - 'n Inwoner van Asla Park op Mosselbaai beplan om stappe teen die polisie te neem, nadat 'n polisiebeampte glo sy Rottweiler in die oog geskiet het.
Die agt maande oue hond, Mia, is deur 'n geregistreerde teler van Danabaai aan haar eienaar, Aldo Abrahams verkoop.
Mia se beseerde oog moes intussen tydens 'n operasie verwyder word.
Die voorval het op Vrydag, 22 Julie, by Abrahams se woning in Malusistraat gebeur. Abrahams het aan die Mossel Bay Advertiser gesê hy en sy vriende was by sy woning toe polisiebeamptes die middag omstreeks 12:00 daar opdaag. Abrahams beweer die polisie het skokgranate in sy erf gegooi en Mia met 'n rubberkoeël in die oog geskiet. Hy sê hy het nie 'n lasbrief vir die optrede gesien nie, en sê die polisie het ook met leë hande weggestap. "Toe ek Mia na die tyd soek, het ek haar agter die huis gekry waar sy weggekruip het. Ek het die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in kennis gestel van die voorval en hulle het Mia kom haal."
DBV-verslag
Die Advertiser is in besit van 'n verslag wat na afloop van die voorval deur die DBV opgestel is.
Die DBV sê in die verslag hulle het Mia met ernstige oogtrauma opgeneem. "Die trauma het tot gevolg gehad dat die oog uit die oogkas gehang het. Die enigste opsie was om die oog te verwyder, omdat dit intense pyn vir die hond veroorsaak het."
'n Rubberkoeël, sowel as beensplinters weens trauma aan die oogkas, moes ook verwyder word. Een van Mia se tande is in die proses gebreek en is ook verwyder.
Mia se medeteler, Deon Strydom, sê hy is woedend oor die voorval. "Aldo het die hond by 'n medeteler wat die reun verskaf het gekoop. Hy het baie mooi na Mia gekyk en hy was trots op sy hond. Sy was 'n skouhond en Aldo wou met haar skou. Ons verstaan dat die polisie vir Mia van buite die erf geskiet het.
Nou sit Aldo met 'n hond sonder 'n oog." Strydom sê talle getuies het glo van die straat af gesien wat gebeur het.
Mia is op Donderdag, 28 Julie, ontslaan, maar is intussen weer terug na die DBV, omdat haar toestand versleg het en die steke aan haar wond losgetrek het.
Die KwaNonqaba polisie se kommunikasiebeampte, ao Kappie Kapp, sê die optrede by Abrahams se woning was 'n gemagtigde operasie gewees.
"Rekords toon dat die polisie minimum geweld moes gebruik en rubberkoeëls is afgevuur, nadat die polisie na bewering deur een van die honde op die erf aangeval is. Ongelukkig is die hond in die proses gewond."
Teen druktyd was Mia steeds vir behandeling by die DBV.
Hierdie rubberkoeël is uit Mia se oog verwyder.
Hierdie foto van Mia is geneem nadat sy in die oog geskiet is.
Aldo Abrahams saam met Mia, kort nadat sy deur die DBV ontslaan is. Mia se toestand het egter intussen versleg en sy is weer teruggeneem vir behandel. Foto's: Louise Karsten
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'