GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Inwoners van Groot-Brakrivier loop draaie om 'n woning in die gebied bekend as die Zone nadat 'n hond glo reeds twee voetgangers in die gebied bestorm en gebyt het.
Op Vrydag, 28 Januarie was Marisa Yona (44), 'n inwoner van Groot-Brakrivier, die hond se nuutste slagoffer. Die hond, waarvan die ras nie bekend is nie, het Marisa om ongeveer 16:00 bestorm.
Marisa se dogter, Veronique sê 'n inwoner wat die voorval gesien gebeur het, het haar ma gehelp om die bloeding aan haar regterbeen te stop.
"Toe my ma by die huis aankom, was haar klere bebloed en sy kon nie op haar been trap nie."
Marisa is in 'n plaaslike hospitaal vir haar besering behandel en is intussen ontslaan.
Volgens 'n ooggetuie het dieselfde hond onlangs 'n man wat in die straat gestap het, ook gebyt.
"Die man loop nou met krukke rond."
Nog 'n inwoner van Groot-Brakrivier, Gwendoline Ohlson is onlangs ook deur 'n hond gebyt, skaars drie huise van waar sy woon. Ohlson was teen druktyd steeds in 'n hospitaal waar sy vir haar besering behandel is.
Volgens Veronique is die eienaar van die hond van die voorvalle bewus. Die Mossel Bay Advertiser kon die eienaar nie teen die ter perse gaan opspoor nie.
Die Mosselbaai-tak van die Tuinroete DBV sê inwoners moet sulke voorvalle by die Mosselbaai-munisipaliteit aanmeld.
"Mense moenie hieroor stilbly nie. Indien daar herhaaldelik so iets gebeur kan die munisipaliteit 'n hofbevel bekom en die DBV kan die hond verwyder."
Marisa moes steke kry nadat 'n hond haar aan haar regterkuit gebyt het.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'